Ek het 'n vriendin wat ly aan koumpounofobie: 'n vrees vir knope. Sy sal byvoorbeeld nie 'n hemp met knope dra tensy sy dit oor haar kop kan aantrek nie. Haar ergste nagmerrie, so het sy altyd gesê, is 'n glasbak vol los knope op 'n basaartafel. (Wag tot sy in 'n nou stegie in die Pearly King of Queen vasloop!)
In die pre-Google dae het ons nie geweet daar is iets soos koumpounofobie nie. Ons het net gedink ons vriendin is effens eksentriek en het haar, nadat sy ons daarvan vertel het, vir ten minste 'n maand aanhoudend daaroor geterg.
Eenkeer wou sy R5 by my leen. Toe sit ek dit onder 'n los knoop net om haar reaksie te toets. "F*k jou", sê sy toe, en stamp die knoop met haar elmboog af. "F*k jou gerus!" Sy was beslis nie geammuseerd met my gedrag nie. En nadat ek klaar gegiggel het, het ek self besef my kanse om die Nobelprys vir Vrede te wen is lelik beduiwel.
Al was my vriendin oortuig knope is euwel, moes sy eenvoudig aanvaar dat weinig ander mense 'n probleem daarmee het. Gevolglik, as 'n sekere meisie met 'n trui wat versier was met enorme helderkleurige plastiekknope voor haar in die klas gaan sit het, kon sy nie veel doen nie. Sy kon daarin vaskyk en vir veertig minute tot in haar tone gril. Of sy moes skuif.
So is daar baie ander fobies waarmee mense daagliks agter die skerms worstel. Maar lyk my diegene wat ly aan hexakosioihexekontahexafobie ('n vrees vir die getal 666), dra nie graag hul kruis in stilte nie.
Bykans 'n maand gelede, het Deon Maas in 'n rubriek in Rapport ("Die Deon Maas Blad: 666 is net ‘n syfer") geskryf dat "Satanisme ’n godsdiens is en dat ons Grondwet bepaal dat almal die vryheid het om die godsdiens van hul keuse te beoefen".
'n Week nadat die rubriek verskyn het, het Rapport ongeveer 450 georkestreerde, gedupliseerde briewe ontvang. Uit protes teen die rubriek, het godsdientige groepe (wat gemeen het Maas propageer Satanisme) 'n kuberveldtog begin, waarin gevra is dat die koerant geboikot word. Hulle het ook gedreig om supermarkte wat Rapport verkoop te boikot, en daar was sprake dat hulle ’n afleweringsvoertuig sou kaap en verbrand.
Om die volk se kollektiewe maagwerk onder bedwang te bring, het Rapport se redakteur, Tim du Plessis, besluit om Maas se kort aanstelling by die koerant te beëindig. Volgens Du Plessis was dit in die koerant se kommersiële belang om onder die druk te swig en die rubriek op te skort.
Daardie groep lesers (wat nie eens almal die rubriek gelees het nie) is natuurlik hoogs in hulle noppies, want hulle het gesien wat hulle kan vermag as hulle 'n bietjie hulle kouse optrek en hul stem dikmaak. In die proses het Tim du Plessis baie respek verloor - hoofsaaklik omdat hy aanvanklik die rubriek goedgekeur het, en hom toe nie later by die skrywer geskaar het nie.
Ek begryp dat Tim dalk nie 'n keuse gehad het nie. Sy Naspers-aandele is seker meer werd as sy joernalistieke integriteit. Maar ek kan steeds nie die lesers se absurde reaksie verstaan nie. Hoekom het hulle so oorreageer? Is dit 'n onnatuurlike Vrees vir God?
Indien wel, sou ek dit verstaan – want dit het my aan 'n voorval in my Sub. A-jaar laat dink. Ek het altyd 'n formidabele respek vir gesag gehad. Eendag het die Juffrou ons klas vir 'n kwartier alleen gelos. Almal het eers gefluister, en toe begin rondloop, en uiteindelik begin skree om gehoor te word. Alle hel sou losbars as sy trugkom – dit was gewis.
Toe hoor ek die Juffrou se voetstappe, en seg met perfekte tydsberekening "Bly nou stil, julle!" net toe sy by die klas instap.
Almal het gelag, want hulle het deur my slinkse gatkruiper-plannetjies gesien. Toe roep sy almal om voor die bord te gaan staan, sodat sy elkeen 'n hou met die liniaal kon gee. "Nie jy nie", sê sy toe vir my, "ek het gehoor hoe jy hulle probeer stilmaak het". Ek was nog nooit so spyt om 'n pak slae vry te spring nie. Ek het wel punte gewen by die gesag, maar ek kry nou nog skaam as ek daaraan dink.
Die storie is nie regtig relevant nie, maar ek wonder of dit verklaar hoe hierdie mense oor God voel: dat hulle as Christene voorgetrek gaan word as hulle mense wat anders dink op só 'n manier aanvat?
As hul reaksie nie deur 'n ontsaglike vrees vir God se toorn gedryf is nie, was dit dalk brandgestoot deur 'n heilige vrees vir die hel self (hadefobie)? Want, soos die bergies se kinders (en my vriendin met koumpounofobie) altyd skemeraand gesing het: "Soe, soe dis warm da' – dis warm innie hel."
Dis jammer die rubriek kon nie bloot 'n gesonde debat oor die onderwerp aan die gang kry nie. Dit is tog net iemand se opinie, waarmee niemand hoef saam te stem nie. Wat lesers ook nie besef nie, is dat dit geen maklike taak is om week na week 'n oorspronklike rubriek van 1000 woorde te skryf nie. Veral wat ons weet het Maas 'n paar uur voor sy deadline nog nie 'n idee gehad waaroor om te skryf nie, toe gryp hy sommer 'n nuusberig wat sy oog gevang het, en probeer daarop voortborduur. Sy storie het heel grappig begin. Maar toe het hy nog 850 woorde oor waarin hy 'n oorspronklike-rige idee, op 'n uitdagende manier moet aanbied - want dit is hoekom Rapport hom aangestel het. Op geen stadium het hy Satanisme na 'n aanloklike alternatief laat lyk nie. Maar om 'n punt te maak, gaan 'n rubriek soms iemand omkrap. (Verkieslik nie iemand wat in sy vrye tyd 'n professionele jagter is nie!)
Daar was nog altyd 'n paar taboe-onderwerpe tussen mense wat wil vriende bly: politiek, rugby en godsdiens – hierdie drie; maar die grootste hiervan, blyk dit, is die godsdiens.
En in Maas se geval was dit dalk 'n kwessie van "Niemand vat aan ons godsdiens nie – maar veral nie jý nie!".
So wat sê Maas oor die bohaai?
"Ek kan nie goedkeur wat Tim gedoen het nie, maar ek verstaan dit."
Hoe edel! Dalk omdat hy intussen opgeraap is deur 'n ander Media24-koerant, Sondag, wat "gemik is op 'n groep lesers wat nie deur die bestaande Sondagkoerant Rapport bereik word nie".
En Rapport se reaksie? Hulle gaan vir al hulle lesers What Would Jesus Do-armbandjies vir Kersfees stuur.
(SA Times, Nov. 07)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
4 comments:
Ek het nog altyd 'n beginselsaak gehad teen die ding dat mense (a) 'n opinie het wat ooreenstem met die laaste mens met wie hulle gepraat het en (b) bonus hemelpunte wil verwerf vir hardwerkendheid en allerlei heilige inisiatiewe sodat die Poorte makliker oopgestoot kan word. Is dit dan nie genoeg om te glo nie? (Ek sweer dit staan iewers op 'n papirusrol) Dit laat dink my aan die Jehova Getuies wat aan voordeure moet gaan hamer sodat hulle 'n beter kans het om een van die 144 000 sitplekke op die bus te kry.
Ek gaan ook hemel toe, al vloek ek fokken baie. (Jy kan daai woord uithaal as jy nie 'n gevloekery op jou blog soek nie)
Ek wou actually iets sê van die 144,000 plekke ("op die bus" haha), maar toe bedink ek my. Ek's banger vir 'n fanatiese gelowige as vir die duiwel self!
Hoe lekker sal die paradys nou actually wees as jy saam met sulke mense daar vasgekeer is?
Ek het vir Deon Maas dieselfde aand van sy laaste dag by Rapport gesien met 'n wit hemp wat sê " Wie de fok is Tim du Plessis" in swart kokipen letters. En almal het vir hom shooters gekoop.
Teehee
Lyk my dit gan goed met Maas vannat almal vir hom bid.
Post a Comment