Ek dink nie een van julle het 'n idee hoe dit voel om 'n rubriek uit jou duim te suig terwyl jy die Ebola-virus onder lede het nie.
Ek, daarenteen, weet baie goed, want dit is presies waarmee ek op hierdie oomblik besig is. Teen die tyd dat julle hierdie storie lees, het my koors hopelik al gebreek. Mens kan net hoop.
En hoe weet ek wat ek makeer? Wel, ek moes navorsing doen vir 'n onderwerp om oor te skryf, maar toe tik ek eers in Google: "eyeballs hurt". Want vanoggend toe ek opstaan kon ek nie my oge draai sonder om te vergaan van die pyn nie. Niemand sal na my gekerm luister nie (want my ma het ons geleer: huil en jy huil alleen), so toe wend ek my maar oudergewoonte na Dr Google vir empatie.
Die diagnose was binne sekondes beskikbaar – 0.16 sekondes, om presies te wees – en daar was 'n hele paar opsies om uit te kies.
Een resultaat was: "Courtney Love makes my eyeballs hurt."
Ek weet vir 'n feit dis nie my probleem nie, want ek het Courtney in geen tye gesien nie. 'n Ander resultaat was dat ek dalk te veel rekenaarspeletjies gespeel het. Ook onmoontlik
Iemand se raad was: "if your eyeballs hurt when you move them, then you are paying the price of not resting and enjoying yourself enough".
Dis die mees absurde opsie van almal. Ek doen vir die afgelope paar maande, nee, jare niks behalwe om te rus en myself te geniet nie.
Die oorblywende opsie is dat ek die Ebola-virus onder lede het – al het ek net vyf uit die twaalf simptome.
As jy hierdie storie op die tube lees, is jou gesig vermoedelik nou vertrek van angs vir my onthalwe. Toemaar, ek sal OK wees. Ek weet ek moet eerder rus. Maar ek het gedink ander mense kan dalk hieruit leer. Ag, en moenie bang wees dat jy dit kan kry nie. Die kans is glo goed dat Ebola jou van kant maak voordat jy iemand kan aansteek. Maar ek glo ek sal dit oorleef. Ek het immers 'n paar jaar gelede (sonder enige dokter) deur 'n slegte aanval van Legionnaires disease geworstel. En voor dit het ek ook al (met Google se hulp) my breinvliesontsteking en malkoeisiekte betyds gediagnoseer.
Maar dankie vir julle onferming! Ek's diep geraak. Sommige mense het net nie soveel simpatie nie. Vanoggend sê my man (wat skielik baie rustelose energie het sedert hy ophou rook het): "Wat gaan ons vandag doen?"
Ek: "Niks?"
Hy: "Kom ons gaan bowling alley toe."
Ek: "Ek's SIEK!"
Hy: "So? Kom ons gaan. Dis my enigste af dag."
Ek: "Nee."
Hy: "Kom ons gan eet dan iets?"
Ek: "(Sug.) Ek moet seker eet."
En terwyl ons deur 'n Pool-wind langs die Teems loop, kon ek hom darem uiteindelik (in 'n huilstemmetjie) oortuig dat eet genoeg van 'n aktiwiteit is vir iemand in my toestand.
Dit het my aan die volgende insident herinner: 'n Paar jaar terug het ek bosluiskoors gehad (regtig!). Dit was 'n verskriklik affêre. Ek kon vir dae nie my ledemate beweeg nie. En verder het die medikasie my naar gemaak en die angswekkendste nagmerries gegee. Die ou met wie ek toe nog uitgegaan het, sê een middag: "Kom ons gaan stap bietjie met die honde. Die vars lug sal jou goed doen."
Ek was nie oortuig nie, maar dag ek sal probeer. Hy't 'n geweer saamgevat. (Ons het op 'n plaas gebly.) Ek vermoed dit was 'n haelgeweer, want nie 50 meter van die huis af nie toe stop hy my 'n leë blik in die hand en skree: "GOOI!"
"Wat?" sê ek. "Is jy mal! Ek het bosluiskoors! Ek kan enige oomblik in 'n koma gaan!"
"Toe, gooi nou", sê hy terwyl hy korrel. "Gooi!"
Toe gooi ek maar, so swak soos wat ek is.
"Uhm, kan jy probeer om dit meer in die lug in te gooi", vra hy. "Hoe anders gaan ek dit skiet?"
"Ek dink ek is besig om te hallusineer", sê ek. "Jy's nie ernstig nie!"
"OK, gooi net drie keer ordentlik, dan kan ons weer huistoe gaan."
Ongelooflik! Veral dat ek hóm nie met 'n blik gegooi het nie. Maar hy het vermoedelik iets in die vorm van aandete belowe wat ek nie kon weier nie.
Nou wonder julle seker hoekom ek na Google hardloop met my probleme en nie na 'n regte dokter nie?
Soos ek vroeër genoem het, mens kry net nie die nodige simpatie by hulle nie. Ek het eenkeer dokter toe gegaan met 'n mangelontsteking reg uit die hel. "Gorrel met sout," seg die dokter toe vir my. "En drink vitamine C en selenium. Jy sal dit maak."
"Kan jy nie sien ek het drugs nodig nie!" het my oë gepleit. Maar nee, sy kon nie. Kwak!
'n Ander keer het ek kwaai pyne net bo my regterboud gekry terwyl ons in een of ander kroeg rondgestaan het. Toe ons by die huis kom, het almal aangekuier. Maar ek het myself verskoon, en grootoog in die donker gaan lê en gewonder of ek ook soos my oumagrootjie (wat 97 geword het) voluit met een nier sou kon lewe.
Toe ek die dokter gaan sien, sug ek vreeslik en sê: "Dis my nier. Ek's bevrees daar's 'n familiegeskiedenis."
"Wys weer waar dit pyn" sê sy. En ek wys.
"Het jy onlangs oefening gedoen?"
"Ja." (Ek't vir die bus gehardloop.)
"Het jy lank iewers rondgestaan?"
"Ja." (Die kroeg.)
"Wel, jy't 'n spier seergemaak," sê sy. "Jou nier sit nie daar nie."
Ek wou nog iets sê van "daar's altyd 'n uitsondering, jy weet" maar loop toe maar eerder.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment