Tuesday, June 27, 2006

Almal (behalwe Sisi) is seuns van vroulike honde!

Die onlangse wysiging van die immigrasie-wetgewing beteken dat ons ook nou 'n ekstra jaar moet 'doen' voor ons Indefinite Leave to Remain kan kry.
Dit pla ons nie juis nie, aangesien ons in elk geval nog die volgende twee jaar in die land sou bly. Dit maak mens net bietjie bitter as jy laat op 'n Sondag-aand by die lughawe kom en die ry vir non-EU mense lyk so:

In die 1.5 uur wat die ry dan voortkruip, het mens baie tyd om jou lot te bedink - veral as jy jou boek in die eerste vyf minute klaar lees. Dit help nie eens jy down die bottel wyn wat jy op die vliegtuig gekry het nie. Dalk sou dit, as dit meer as drie slukke was.
Dit help ook nie as een of anner Suid-Amerikaanse drol oor en oor dieselfde tune fluit nie - ongeag of dit die grootste song van die somer is. Oor hy op vakansie is, dink hy seker dis 'n avontuur. En oor hy so groot is, mag hy seker maar doen wat hy wil. Ek kan maar net dink wat ek wil. En dis nie mooi nie.
Intussen giggel die 3500 Chinese studente onophoudelik vir elke vraag wat die immigrasie-beamptes hulle vra. Ek is groot op Britse humor, maar SO snaaks is hulle nou wragtag ook nie.
Teen die tyd wat ek voor in die ry is, het ek so 'n twisted kyk in my bloedbelope oe, dat ek lus is om klein stukkies van my stink Franse kaas oral agter stoele in te druk.
Boonop voel ek nog elke keer soos 'n krimineel ook. Eerstens as ek deur paspoort-kontrole gaan, met: Van waar kom jy? En: Wat doen jy hier? En: Waar's jou man (op wie se permit jy so lekker travel), hmmm? Hy braai lekker by die huis, ok! Hy braai lekker, terwyl ek hier staan en resepte uitruil met JOU. TEEF!
En dan weer as ek deur customs gaan, waar ek altyd (voel of ek) lyk soos iemand wat 'n vetplant en 'n halwe slagding probeer deursmokkel.
Om trug te kom by die punt: Teen die tyd wat ons Britse paspoorte gaan kry, sal Werner reeds 10 jaar in die land wees - ons sal waarskynlik ons Britishness test saam met mense skryf wat slegs vier jaar langer, wettig of onwettig, in die land was.
Dis moeilik om te begryp (as mens soms so bitter raak): Ons kon in die afgelope drie plaaslike verkiesings stem en Werner is al opgeroep vir Jury duty, maar omdat hy in sy eerste drie jaar op drie verskillende tipes visas gewerk het, tel dit nie. En nou. omdat die timing bietjie uit is, gaan dit ons 'n jaar langer vat. Daar's weer die drama om die werkspermit verleng te kry (wat natuurlik nie 'n gegewe is nie), plus al die onkostes wat dit behels, asook die gemors met Schengen-visas (soos dat ons drie maande voor die werkspermit verval nie Schengens kan kry). Maar ons moet seker dankbaar wees dat ons wel hier kan werk. En ons is. Dis immers nog steeds makliker in Engeland as enige ander plek in Europa.

Toe lees ek van hierdie website waar hulle mense aanmoedig om petisies te teken en vir jou MP te mail. En omdat ek soms 'n bietjie bitter is, doen ek dit toe, net om te sien wat gebeur. En toe skryf hy trug binne twee dae. Nie met goeie nuus nie, maar ek's nou nog verstom dat mens actually 'n antwoord van 'n MP kan kry. Ons is mos nie so grootgemaak nie.

Wie weet, dalk kom hulle later mense soos ons tegemoet. Vermoedelik eers oor 'n jaar, as ons dit nie meer nodig het nie.

Taste of London

Beteken ek kan eet en drink en vrolik wees terwyl Werrie moet werk.

Wednesday, June 07, 2006

Vir al die Guy-fans

Guy Goma het toe nie die werk by die BBC gekry nie. En dis nie net ek wat spyt is nie - iemand het 'n petisie opgestel waarin hulle by die BBC pleit om hom aan te stel. Ongeveer 6060 mense het alreeds die petisie onderteken en jy kan ook.

Intussen het Guy besluit om sy blou hemp vir liefdadigheid op te veil. Jy kan tot 27 Junie daarop bie. Hou net in gedagte dat hy noodwendig baie erg daarin gesweet het.

Maar sy glorierykste oomblik sedert die traumatiese TV-onderhoud is beslis sy verskyning op Jonathan Ross se chat show, waarna jy hier kan kyk.

Thursday, May 04, 2006

Wrong Guy

Deesdae weet gegradueerdes hulle moet op allerhande 'kreatiewe' (lees: kak) vrae voorbereid wees tydens werksonderhoude. Byvoorbeeld: As jy ‘n boom was, watter soort boom sou jy wou wees? Of: As jy ander mense kon hoor sleg praat oor jou, wat sou hulle sê? En so.

Guy Goma was seker bewus hiervan, anders sou hy hardop gewonder het hoekom hy voor sy onderhoud, vir ‘n werk in die BBC se IT-afdeling, eers gegrimeer moes word. En toe hulle hom op ‘n TV-stel voor 'n kamera sitmaak, het hy gedink dis deel van ‘n vreemde inisiasie-proses.

Hy't wel onraad vermoed (soos jy hier kan sien) toe die onderhoudvoerder hom as Guy Kewney, redakteur van newswireless.net, voorstel en vir sy opinie oor die hofsaak tussen Apple Computers en die Beatles se Apple Corps vra, maar hy't sy pose herwin en homself met die grootste gesag, in erg gebroke Engels, oor die onderwerp uitgelaat.

Intussen het die regte Guy Kewney vergeefs elders in die gebou sit en wag vir iemand wat hom na die stel sou lei.

Kyk hier na die hele onderhoud.

(Goma wag nog om te hoor of hy die werk gekry het.)

Wednesday, March 22, 2006

Op Trafalgar Square se vierde paal was daar

Hierdie standbeeld pryk alreeds ses maande op Trafalgar Square se "fourth plinth", maar ek het dit nou die dag vir die eerste keer gesien.



Alison Lapper Pregnant, deur Marc Quinn, is een van twee werke wat in 2004 uit ‘n kortlys van ses kunstenaars gekies is om hier geinstalleer te word. Thomas Schütte se Hotel for the Birds sal dit in April 2007 vervang.

Daar was (ouder gewoonte) ‘n groot en uitgerekte debat oor wat op hierdie platform moes kom. In Maart 2003 het Wendy Woods, weduwee van 'n anti-apartheid joernalis, 'n dapper poging aangewend om £400,000 in te samel om vir ‘n standbeeld van Nelson Mandela deur Ian Walters te betaal. Dit sou baie relevant wees, met die dat Suid-Afrika Huis, waar baie anti-apartheid demonstrasies gehou is, ook op Trafalgar Square is. Maar dit het toe nie so uitgewerk nie.

Marc Quinn se standbeeld, seg een of ander ou in bevel, "considers questions of idealism, heroism, femininity, prejudice and identity,"
Behalwe vir die femininity, is dit seker presies wat 'n standbeeld van Madiba sou uitbeeld.
Maar dis die Britte se paal. Laat hulle daarop sit wie hulle wil.

Dalk het die Amerikaner Larry Adler die beste idee gehad toe hy voorgestel het dat hulle 'n standbeeld van Moby Dick oprig, wat hulle dan die "Plinth of Whales" sou kon noem.

Hoe lank vat 'n toeris om sy tube-kaart te kry?

Ongeveer drie jaar.

Sunday, February 19, 2006

Minki trek Londen toe - soortvan

Minki van der Westhuizen gaan glo voortaan vir vier maande per jaar in Londen bly. Sy sal gou regkom, seg haar agent - sy's in elk geval een maal 'n maand hier, so sy behoort nie aanpassingsprobleme te hê nie.
Hoe gelukkig. En sy spring nie slegs die aanpassingsprobleme vry nie. Ek vermoed ook dat mense soos sy nooit die geleentheid kry om vir (wat voel soos) ure laat in die nag vir 'n trein te wag wat verseker vol gaan wees teen die tyd wat hy opdaag nie. Sy mis nie uit nie, maar dis regtig nie altyd oninteressant nie. Aag, OK, dit suig. Maar vir haar en die res wat dit nooit sal beleef nie, hier's 'n uittreksel.

Jy kan oor ander mense se skouers koerant lees:

Jy kan die muise wat onder die spore rondhol dophou:

Jy kan luister hoe mense langs jou die advertensies met dialoog dramatiseer:

Of jy kan tel hoeveel mense hul Sudoku klaarmaak voor hulle in 'n koma gaan (antwoord: nie baie nie):


Die pers in SA is natuurlik verheug oor Minki se skuif. Want met die volgende ramp wat die stad tref kan hulle na hartelus hoofopskrifte soos SA Model Oorleef Terreur-hel, of Minki se Noue Ontkoming uitdink. Hulle kan ook dramatiese tonele uitbeeld van wat kon gebeur as sy die bus sou vat wat sy nooit vat nie, na 'n plek waar sy nog nooit was nie.

Friday, February 17, 2006

Morgan Freeman IS Madiba

Dit lyk my sommige mense is nie oortuig dat Morgan Freeman die ooglopende en enigste keuse vir A Long Walk to Freedom se hoofrol is nie.
Van my beste vriende lyk soos Mandela, maar Freeman het werklik geen kompetisie nie.

(Photo: www.anc.org.za)

(Photo: Steve Granitz, WireImage.com)

Net so is daar slegs een persoon wat die rol van George W Bush kan vertolk:


(Photo: www.askmen.com)

(Photo: www.leconcombre.com)

Die rokers wat moet uitgaan in die koue

Vanaf volgende somer gaan rook in alle openbare geboue in Engeland (en dalk Wallis) verban wees. Die wetgewing wat dit bepaal begin so:

"Be it enacted by the Queen’s most Excellent Majesty, by and with the advice and consent of the Lords Spiritual and Temporal, and Commons, in this present Parliament assembled, and by the authority of the same, as follows:— ..."

'n Indrukwekkende sin wat enige voornemende regsstudent twee keer moet laat dink oor hul loopbaankeuse. Dis die tipe paragraaf wat gemaak het dat ek (soos my Deliktereg-handboek dit gestel het) gereeld in die nette van my eie begripsverwarring vasgevang geraak het.

En mense kan gerus sommer nou al ophou rook - dis nie lekker vir nie-rokers om heeltyd alleen in 'n restaurant te sit terwyl al die rokers buite paartie nie.

Wednesday, February 15, 2006

Vir aandag: Alle Afrikaanse nannies en supply teachers met advertensies in die Evening Standard - ontrek dit nou!

In vandag se Evening Standard (ongeveer 800,000 lesers daagliks), skryf een van die mees gerespekteerde en gevreesde restaurant-kritici in Engeland, Fay Maschler, die volgende:
"There used to be a South African fish restaurant called Fish Hoek but I never made the Great Trek to Chiswick to try it out. Something about the Afrikaans sound of hoek caught in my throat.
"Fish Hoek closed last summer and in its place is Fish Hook where chef/proprietor is Michael Nadra, who graduated from Glasgow University with an honours degree in engineering..."

Buy a donkey, Fay. Buy a bye a donkey.