Monday, August 16, 2004

Stink Salami?

London Underground probeer altyd hul tienduisend reëls op humoristiese ons-vra-mooi plakkate uitbeeld. Vir lank was daar die Love Is… reeks. (Daai kaal seuntjie en dogtertjie, onthou?) Love Is… To Move Down the Carriage. En so. Die afgelope maand moes hulle toe 'n reeks plakkate wat (glo) oor die £100,000 gekos het om te vervaardig verwyder omdat dit elke Italianer wat dit gesien het sielsongelukkig gemaak het. Die advertensie wys 'n man wat soos 'n slagter lyk ('n Italiaanse slagter, se hulle) wat tussen 'n klomp hamme en salamis op die tube sit. Don't Eat Smelly Food is die boodskap. Julle tas ons erfenis aan, kla die italianers. Op een salami kan jy duidelik 'n bekende vervaardiger se naam sien.

Behalwe dit - as iemand met 'n moerse parma ham voor my gaan sit, gaan ek emmersvol kwyl van die lus. Salamis en hamme stink nie. Ook nie noodwendig mense wat dit eet nie. Dis die kerrie-eters wat pong. Van al die chilli en garlic en die wie-weet-wat wat so skerp ruik dat jy self in 'n oranje vetterige sweet wil uitslaan. Miskien lyk 'n tradisionele salami-eter net meer polities korrek op 'n plakkaat as 'n tradisionele kerrie-eter.

Stink kos is in elk geval nie die grootste probleem op die tube nie. Op London Underground se webblad kon mense stem vir wat hulle beskou as die mees irriterende gewoontes van mede-passasiers. Om op die trein te klim voor ander passasiers afgeklim het, het verreweg die meeste stemme gekry. Mense wat op die linkerkant staan (waar hulle veronderstel is om geweldadig te loop) was ook hoog op die lys. En, vreemd genoeg, mense wat lyk of hulle 'n trekklavier by die huis het, het dubbeld soveel stemme gekry as mense wat stink kos eet.
Julle het dit nog lekker hier in Londen, sê hulle elders op die blad. Julle dink byvoorbeeld die tubes is vol, maar in Tokyo word party mense betaal om meer passasiers op die treine te druk.
Seker nie lank voor dit hier die werk van die minimum-loners gaan wees nie. Ek meen, ons eet klaar almal rou vis.

(Klets - Augustus 2004)

No comments: