Monday, August 16, 2004

Daar was 'n Portu-geezer

('n Deelhuisgenoot Ware Lewensdrama)

Elf jaar gelede besluit Conceicao Amada skielik genoeg is genoeg. "Jorge! Duarte! Agostinho! Luis! Miguel! Andre!" roep sy haar ses seuns, "Pak julle goed. Ons trek terug Madeira toe. Nou!"
Vir Pretoria sien sy nie 'n dag langer kans nie.
Adeus, Jose Luis Corte Leodoro, groet sy haar man. Dit was sý idee om vier jaar tevore na hierdie geweldadige uithoek van die wereld te trek, om sy heil as elektrisiën te kom soek. Maar sy kan nie aanpas nie, en hy wil nie teruggaan Portugal toe nie. So: Adeus, Jose Luis Corte Leodoro, roep sy vir oulaas oor haar skouer.
En sedertdien het hulle nog nie weer gepraat nie.
"Ek weet nie waar hy is nie" sê Conceicao. "En ek gee ook nie om nie!"

Maar ons gee om! Want ons wil die uitdrukking op sy gesig sien as ons hom vertel dat sy seun Jorge, wat 16 was toe hy hom laas gesien het, se naam nou Nadia is. En dat Nadia, inderdaad, 100% volledig vrou is. Dat sy met haar DD-borste (wat sy graag vir almal wys), haar FF-persoonlikheid, haar glamorous uitrustings, haar obsessiewe rookgewoontes en haar skril-histeriese lag ses miljoen Britse televisiekykers oorrompel het - want dít is hoeveel mense vir haar gestem het om die afgelope week loshande, as die gewildste deelnemer ooit, die vyfde Big Brother-reeks te wen.
"Juffrou" sê Jose Luis Corte Leodoro waar ons hom opspoor in 'n klein dorpie op die grens van Botswana, waar hy rakke pak vir 'n lewe, "ons sal verkies as jy die tydskrif koop vóór jy dit lees."
Maar kyk dan hier!
Hy kyk weer na die foto, en weer, en sê uiteindelik trots "Sy's baie mooi. Nadia. Die mooiste vrou in ons familie!"
Hy maak 'n bottel sjampanje oop. "Ons wou altyd 'n dogter gehad het."

Tog, ten spyte daarvan dat 'n herontmoeting topklas tabloid-voer sou wees, is dit nie vir Nadia 'n gegewe nie. Luis was immers nie altyd No. 1 Pa Van Die Jaar nie.
Oor haar oorwinning is sy verheug. Nie soseer oor die prysgeld nie, maar oor die nasie haar aanvaar. As 'n vrou. En nou hoop sy om haar droomman te ontmoet, sodat sy 'n groot wit troue kan hou.
Haar elf huismaats was deurgaans onbewus van haar geheim. Victor was wel skepties oor haar vierkantige ken. "Daar's twee goed wat jy van die maan kan sien," het hy gesê, "die Groot Muur van China. En Nadia se kakebeen."

(Klets - Augustus 2004)

No comments: