Wednesday, February 01, 2006

Die dag toe ek amper 'n KP was

Iemand het my laat weet "Calvinia is blykbaar die enigste kiesafdeling in SA waar die KP in die komende verkiesing gaan staan".

As ek 'n KP was, en in Calvinia gebly het, sou ek seker bly wees vir die geleentheid om bietjie dorp toe te gaan om te stem. Maar, soos dit is, raak dit my nie regtig nie.
Maar daar was wel 'n dag in Calvinia toe ek gedog het ek's KP.

Ek was 8, toe, en in die koshuis. Het die aand, soos meeste ander aande, voor aandete (5.30pm) saam met my mater Annemarie gebad. Toe kom een van die groot kinders (Thea, 9) in die badkamer en vra of sy ook in die bad kan spring, want haar pa-hulle kom na ete (5.32pm) vir haar kuier, en daarna gaan sy nie genoeg tyd hê om voor stilte-tyd (5.35pm) te bad nie. Ek het 'n heilige ontsag vir die groot kinders gehad en het onmiddellik ja gesê, en vir Annemarie beveel om op die prop te sit, sodat Thea die beste spot agter in die bad kan kry. Ek sou in die middel sit om 'n afstand tussen Annemarie en Thea te hou, want anders as vir my was dit dalk nie binne Annemarie se vermoe om hierdie uiters sensitiewe situasie met die nodige takt te hanteer nie.

"Nou wat kom maak jou ma-hulle op die dorp, ha?" vra Annemarie toe sommer.
En ek kyk haar met 'n KAN JY NIE SIEN SY BAD NIE! kyk. Maar ek draai toe self na Thea, want sy't immers (uit karakter vir iemand groter) nie gegil Vir my om te weet en vir jou om uit te vind nie!
En sy was immers op ons turf.
"Hulle kom vir 'n NP-vergadering," sê Thea.
"NP?" sê Annemarie. "Is julle NP?"
"Ja," sê Thea. "Is julle nie?"
"Nee," sê Annemarie gebelgd. "Ons is KP!"
"En ons is NP," sê Thea.
En na 'n gelaaide stilte (gelaai vir my, want ek breek my kop om uit te figure waaroor hulle praat), vra hulle gelyk vir my: Wat's julle?
Ek weet nie, sê ek benoud. Wat 'n gemors. My beste vriendin (op daai oomblik) is KP, maar THEA is NP.
"Ek weet nie," sê ek weer. Maar ek voel tog verplig om te kies. "Seker maar KP."
Dis teleurstellend, maar mens word immers aan jou vriende geken.
"Ja, meeste mense is KP", sê Annemarie triomfantlik.
"Wel, al die onderwysers is NP", sê Thea, met die benydenswaardige kalmte en selfvertroue van iemand ouer en wyser. En met dié klim sy uit die bad.
"AL die onderwysers?" vra ek.
"Yup."
"Nee, maar ... dan's ons ook NP", sê ek - merkbaar verlig dat ek en Thea op die ou end tog in dieselfde span is.
Annemarie gee my 'n vieslike kyk. En toe Thea weg is: "Al die onderwysers is nié NP nie!"
"As Thea so sê dan IS hulle!"
"Maar hoe weet jy dat JULLE is?"
"As HULLE is, dan's ons!"
"Ek dink nie so nie!"
"Ek sal my ma-hulle vra, ok?"
"Ok. En het jy nou gesien - Standerd 1's hét borste!"

3 comments:

Do Kwang said...

Daar was altyd so billboard soos mens Cal binnery wat gelui het: "Welkom in Calvinia. Dit is KP we^reld dié."

Christine said...

Calvinia is darem nie net KP wêreld nie. Dis ook skaap-wêreld, blom-wêreld en, volgens 'n Skotse gholftydskrif, die enigste plek op aarde "where the greens are black". O, en dit het die grootste posbus in die Suidelike Halfrond.
As ek nie mis het nie, is daai KP sign, saam met al die ander signs om die dorp, vol gate geskiet - vermoedelik deur die einste KPs. Ha ha.

Christine said...

Re Winnie:
Ek dink as SA se politiek 'n soap soos Egoli was, was Winnie dalk Kaye Knobel. Sy't balls, en sy't al die meeste mense aan hulle s'n beetgehad. As Mandela minder van 'n visie gehad het, sou sy die land gerun het. Sy't al die Terminator aangevat, immers.