Tuesday, November 14, 2006

Die Groot Laer-trek

Verlede week het die SA Times berig oor twee Suid-Afrikaanse ondernemings wat beveel is om hul webwerwe te wysig aangesien dit, volgens die Kommissie van Rassegelykheid, diskriminerend is (UK-based SA housing companies accused of racism, 8 November 2006).

Die kommissie meen die Afrikaanse teks op Ultimate Housing en Homes Africa se webwerwe diskrimineer teen mense wat nie Afrikaans verstaan nie. Volgens hulle kan 'n tweetalige webblad nie regverdig word nie, omdat enige Afrikaanse persoon wat Engeland toe kom 'n goeie verstandhouding van Engels behoort te hê. 'n Afrikaanse vertaling dui gevolglik op die bedoeling om te diskrimineer. En volgens die wet op rasseverhoudings is enigiets wat jy publiseer, of wat deur jou toedoen publiseer word, onwettig as dit dui op 'n bedoeling (uit 'n ander se oogpunt gesien) om te diskrimineer.

Ek wonder wie't gaan kla?

Daar's soveel webwerwe en koerante waarin jy blyplek kan soek – as iets jou nie aanstaan nie, kan jy mos elders gaan soek. As daar gestaan het "Slegs Blank!" of "Geen Gays!" kan ek verstaan dat dit 'n probleem is. Maar volgens my beteken die feit dat hulle noem dis vir jong Suid-Afrikaners dat voornemende huurders 'n aanduiding kan kry van die tipe mense waarmee hulle 'n huis moet deel. 'n 57-jarige Britse makelaar kan raai dis 'n kinders wat elke tweede aand partytjie hou. Tensy hy daarmee kan saamleef, sal hy nie tyd mors om aansoek te doen nie.

Moet Gumtree, as 'n publiseerder, dan ook aangekla word van diskriminasie? Gaan kyk 'n bietjie hoe baie advertensies is nie in Engels nie, en andersins diskriminerend. Meeste advertensies sê byvoorbeeld iets soos: ons is twee Australiërs op soek na 'n like-minded huismaat. Ek weet ek sal met hulle kan deel, want ons het vermoedelik soortgelyke prioriteite, maar 'n middeljarige Bulgaar met twee kinders sal sukkel. Almal sal oor die weg kom, maar dis nie die ideale saambly-situasie nie.

Ons adverteer self gereeld kamers op die Gumtree. Dis nie soos om van iets, soos 'n tweedehandse motor, ontslae te probeer raak nie. Dis blyplek in 'n huis waarin ons wil hê almal moet oor die weg kom, en so min as moontlik moan. Ons noem gewoonlik dat dit (tans) 'n Suid-Afrikaanse/Antipodean huis is, en dat dit ideaal sou wees vir mense wat geld wil spaar om te travel. Daarmee wil ek hoofsaaklik 'n groot persentasie huurders ontmoedig om hul tyd te mors.

Ons gee almal 'n kans (behalwe mense wat vra "Wat beteken Antipodean?", of versoek dat ek hulle meer van "die ou plekkie" vertel, en dit nodig vind om hulle akademiese kwalifikasies te lys), en ons kry navrae van 'n wye verskeidenheid mense. Byvoorbeeld twee 18-jarige studente. Ek sal noem dat daar nie juis 'n studie-atmosfeer in die huis heers nie, of dat almal bo 27 is. As hulle steeds belangstel, moet hulle kom kyk. En dan kan hulle (en ons) besluit of hulle sal inpas.
'n Ander navraag was van 'n 36-jarige programmeerder:
"My name is X, my wife, a lovely lady, name is Y, we have bought plane tickets, if not delay, it will arrive Heathrow Airport at 3pm on london time. We are from china, my wife is house wife, we are very friendly, good manners, no smoking, easy going, serious and responsible people. I'm a HSMP work permit Visa holder, I will find a new job in london and begin our new life in UK. We are very interesting to your adverts, we want to find a true home in london, Could my wife and I join your, thanks!"
Ek het vermoed ons huis is nie wat hulle in gedagte gehad het nie, al was die huisvrou-deel aanloklik ('n vorige advertensie waarin Werner gevra het vir twee blonde Sweedse meisies wat hou van skoonmaak, het niks opgelewer nie). Ek het gesê hulle moet kom kyk as hulle land, tensy dit reeds gevat is, en hulle gevra hoe hulle voel oor die feit dat daar net een badkamer is? Ek het nie weer van hulle gehoor nie. En dit is een ding wat Suid-Afrikaners - asook Australiërs, Nieu-Seelanders en (teen die tyd) Oos-Europeërs weet: goedkoperige huur beteken sekere opofferinge.

Mens moet tog wonder wat sommige Afrikaanse advertensies op Gumtree impliseer. Byvoorbeeld: "Sorry, but this is a 'South African' home only". (Die res van die advertensie is in Afrikaans.) Wat bedoel hulle met 'South African'? Vir my laat voel die aanhalingstekens dit so "wink nudge, jy weet wat ons bedoel". Asof ek welkom sou wees, maar nie my kêrel as hy van Ghana was nie.

Of: "Ons is 7 'stabiele', net lekker, gemaklike, skoon en Christelike Suid-Afrikaners wat saam bly." Wat beteken stabiel as dit tussen aanhalingstekens staan - dat hulle eintlik 'n klomp weirdos is? Of dat ander uitlanders meestal onstabiel is?

Daar's altyd een wat eis dat "Geen Kansvatters!" aansoek doen nie. Wat's kansvatters? ProNutro-diewe? (Die kamer is seker nou nog leeg.)

'n Ander advertensie op Gumtree bied kamers aan "in Suid-Afrikaanse deelhuise wat jou ma sal laat lekker slaap". Maar hulle soek nie "swernote of skerminkels" nie.
Die grootste skerminkels waarvan ek al gehoor het, is die Afrikaanse ouens wat vir Ronel weke se huur geskuld het, en toe "soos diewe in die nag" met die selfoon verdwyn het wat sy hulle geleen het om met die werksoekery te help.

Daar's ook heelwat advertensies wat kamers het om te deel met 'n "oulike Suid-Afrikaner". In die dae toe ek 'n kamer met 'n oulike Suid-Afrikaner moes deel, kon jy permanent 'n kloppende aar op my voorkop sien. Ek kan nie daarmee deal nie.
Sy was geweldig nice, maar net té. Elke sin het begin met Jammer. "Jammer dat ek so hoes!", "Jammer vir die geraas!" Haar eerste woord in die oggend was "Jammer!" Gevolg deur 'n onophoudelike geklets as sy my gekreun as 'n teken sien dat ek luister.
"Het ek jou wakker gemaak? Het jy lekker geslaap? Jis, acks niks lus vir werk nie. Acks vodde. Dink jy ek moet 'n sambreel vat? Hmmm…? Dink jy dit gaan reën?"
"Hoe lyk dit buite?"
"Na reën."
"So, wat dink jy?"
"Ek sal maar 'n sambreel vat."
"Goed."

Ek weet ook nie hoekom Suid-Afrikaners soms so bloedskanderig eksklusief wil wees nie. Ons het al saam met wonderlike mense van ander lande gebly. Waar in die wêreld sal jy byvoorbeeld die geleentheid kry om met die nasionale dambord-kampioen van Tsjeggo-Slowakye 'n huis te deel (soos wat Ronel en Faan doen)? Daarenteen was van die grootste losers met wie ek al gebly het, van die Slegs Afrikaans-tipe Afrikaners. Mense wat elke Vrydagaand huil want "hier's darem nie 'n plek soos Shooters nie".

(SA Times, 15 November 2006)

No comments: