Friday, November 10, 2006

Toe die Hamster Dance nog cool was

'n Paar weke gelede is 'n man skuldig bevind aan Brittanje se eerste sogenaamde webwoede-aanval. (En ek bedoel nie die soort waartydens jy jou eie voorkop teen jou rekenaar kap nie. Dit mag jy na hartelus doen.)

Paul Gibbons het ná 'n rusie in 'n Yahoo!-kletskamer, wat Islam as fokus het, na John Jones se huis gegaan en hom herhaaldelik met 'n byl-steel geslaan. Jones het homself met 'n mes probeer beskerm, maar Gibbons het dit gegryp en amper Jones se keel met sy eie mes afgesny.

Nou waarsku die polisie internet-gebruikers om hul identiteit te beskerm, aangesien Gibbons maklik Jones se adres kon opspoor met behulp van persoonlike inligting wat hy op die internet geplaas het.

Ek is oor die algemeen onnodig paranoïes, maar ek kan nie verstaan hoekom mense dink dis 'n goeie idee, of hoegenaamd nodig, om al hulle persoonlike inligting op die internet te sit nie. 'n Paar jaar terug kon jy nog mense hul onkunde vergewe. Maar met alles wat jy deesdae weet en hoor, is dit mos lekker stoopit om jou details orals te los. Soveel temeer as jy mense gaan beledig op 'n forum met 'n godsdienstige tema. Maar daar sal seker altyd sulke suckers wees. Nie dat dit noodwendig 'n slegte ding is nie – 'n mens kan mos lekker 'n ander se naïwiteit vir jou eie vermaak uitbuit...

My eerste werk, sewe jaar gelede, was by 24.com, wat op daardie stadium Naspers se nuwe inligtingsportaal was. (Die't met die draai van die eeu gesneuwel, maar intussen weer uit sy virtuele graf herrys.)

Soos enige behoorlike portaal betaam, het 24.com het ook sy eie chat server gehad. Dit was natuurlik 'n wonderlike speelplek vir almal in Naspers wat nie lus was vir werk nie, maar besig wou lyk. 'n Minder opsigtelike smoke break, kan jy maar sê. Mense van buite die maatskappy kon ook daar gesels, maar dit was oorwegend Naspers-werknemers wat daarvan geweet het. So het ek, Jomarié wat haar internskap by Insig oorkant die pad gedoen het, en Chris, wat saam met my by 24.com was, mekaar gereeld aanlyn ontmoet. Gewoonlik vyf minute nadat ons mekaar gegroet het (want ons het saam gery van Stellenbosch af), en totdat ons mekaar weer 'n paar uur later vir middagete sou sien.

Elke dag het dieselfde mense aangemeld met Hallo julle!! Amper naweek!! Sandraaaa!! ((hugs)) of iets dergeliks.

Op daardie stadium het ek al baie gechat, so ek het 'n ordentlike bynaam gehad. Iets soos, seg maar, Stoomboot. Maar die meerderheid het name gehad soos Johan, Karen of Tania. Ek en my vriende het meestal met mekaar gepraat, maar ook gevolg wat in die channels aangaan. Ons is ryklik beloon. Want terwyl almal so gretig hulle biografiese inligting uitruil, kon ons vir toekomstige verwysing hul profiele bou. Dan sal ons byvoorbeeld uitgaan, en inlog as iemand van wie hulle pas gepraat het (byvoorbeeld Annatjie Louw saam met wie hulle by Sanlam in Bonnievale gewerk het). Met genoeg agtergrondinligting, kon mens hulle lekker uitfreak.

Een vrou (kom ons noem haar Leonie, want dit was haar naam) het in Die Burger se argief-afdeling gewerk. Toe log ek eendag in as Ebbe Domisse, Die Burger se hoofredakteur. Leonie klets nog so lekker met haar maters in Pretoria, toe sê ek "Haai, Leonie, kan jy gou vir my 'n foto bring van Milo ('n Jack Russell wat die koerant gehaal het oor hy 'n opehartoperasie ondergaan het)? En Leopold Scholtz soek 'n foto van die régte Jan van Riebeeck." (Want daar was 'n storie dat die standbeeld in Kaapstad dalk nie van onze Jan was nie.) Dan sou my vriendin inlog as Leopold Scholtz, gesoute koerantman en historikus. En ons sou oor die sake van die dag klets.

Leonie ignoreer my eers. Ek sê: "Leonie? Kom jy reg?"

Stilte.

"Leonie?"

"Meneer…"

"Maak maar gou, jong. Ons het nie heeldag tyd nie. Leopold moet nog Stellenbosch toe ry."

"Meneer, iemand sê dis nie regtig Meneer nie."

"Leonie, Ons almal moet die nuwe tegnologie omhels. Dit help nie ek sit net heeldag in my kantoor en beproef nie die nuwe komminikasiekanale wat so geredelik beskikbaar is nie. Nou maak nou gou, toe. Ons wag."

"Goed Meneer, ja Meneer."

En daar log sy af. Ons wou iemand biblioteek toe stuur om te kyk of sy rondhol op soek na foto's. En ons het gebars om te weet hoe Ebbe sou reageer as sy by sy kantoor sou instorm en sê Jammer Meneer, ek kry nie 'n foto van die regte Jan van Riebeeck nie.

Ag, dit was pret. (Ek het nog nie iemand met 'n byl-steel geslaan nie, so weet nie of mens dit kan vergelyk nie.)

En terwyl ek nou nostalgies raak oor die ou dae van die nuwe media – daar't het destyds ook 'n paar emails die rondte gedoen waarmee eenvoudige tuisblaaie binne enkele dae kult-status bereik het. Een daarvan was die Hamster Dance, waarvan jy 'n weergawe kan sien by www.webhamster.com. (Probeer gerus om daai tune uit jou kop te kry.)

Die ander was Mahir Cagri, die Borat van die 90's. Ek het al vergeet van hom, totdat iemand opgemerk het hoe baie Sacha Baron Cohen se karakter en Mahir in gemeen het.
Op Mahir se webblad word mens begroet met "Welcome to my Home Page!!!!!!! I Kiss You!!!!!"

Dan deel hy sy belangstellings: "I like music, I have many many music enstrumans my home I can play." Asook: "I like sex."

Volgens Mahir het 'n hacker hierdie stukkie bygelas as 'n grap, en is dit waarskynlik die rede hoekom hy binne 'n week miljoene hits gekry het, en jy die gelag vir drie maande daarna nog kon hoor.

Daar's ook 'n aksie-foto van Mahir wat tafeltennis speel. En een waar hy met 'n piepklein rooi Speedo op die rotse lê. Maar dis nie net heeltyd speeltyd nie. "My profession jurnalist, music and sport teacher. I like to take foto-camera (amimals, towns, nice nude models and peoples)."

En as jy nog nie voor sy sjarme geswig het nie: "I live alone!!!!!! Who is want to come Turkey I can invitate… She can stay my home."

Wat 'n man!

So gewild was hy, dat 'n jong internet-maatskappy hom betaal het om vir promosie-doeleindes deur Amerika te toer. Mense oral oor die wêreld het foto's van hulself geneem met die slagspreuk I Kiss You! en dit vir Mahir gestuur. (Toe een van my kollegas die maatskappy verlaat, het hy dit onderaan sy afskeids-email geskryf.)
Sacha Baron Cohen het glo gesê hy ontwikkel die Borat-karakter (wat by die MTV Europe Music Awards geskree het: I like sex!) al sedert 1995 – vier jaar voor Mahir bekend geraak het. Wie gee om. Borat is briljant in eie reg. En wie weet, dalk is Mahir ook die vrug van iemand se verbeelding. Maar hy was wel een van die eerste, onverwagse sterre van die internet – 'n ster wat mense self geskep het, nie een wat aan hulle verkoop is nie.
(Kyk na 'n kopie van die oorspronklike Mahir-blad by www.istanbul.tc/mahir/mahir/.)

(SA Times, 1 November 2006)

No comments: