Monday, February 05, 2007

Hulle is nie almal so nie

Julle het dalk twee weke gelede 'n storie in Beeld of Die Burger gelees oor hoe jong Suid-Afrikaners hier uithaak. In die berig, "Jonges uit SA laat Londen gril", haal die joernalis, Joylene van Wyk, deurgaans vir Charl van Rooyen aan wat beweer "ons kultuur van Christene" is vervang met 'n "losbandige suiplapkultuur waar daar gekyk word met hoeveel skelmstreke weggekom kan word".

Jong Suid-Afrikaners, meen hy, het hul naam "so sleg hier gemaak met hul growwe gedrag, arrogansie en roekeloosheid dat baie Britse maatskappye nie meer kans sien om hulle aan te stel nie". Poolse werkers word glo eerder verkies.

Ag, so hoor ons jaar na jaar dieselfde ou storie. Vervang net "Poolse" met Australiese, Brasiliaanse, Hongaarse, of Romeense.

Ek vermoed Joylene van Wyk is Media24 se nuutste Londen-korrespondent, maar wie is hierdie Charl Vinger-op-die-Pols van Rooyen wat hom met soveel gesag oor die jong Suid-Afrikaners uitlaat? Volgens die berig het hy 'n agentskap genaamd Infinito Travel besit, waardeur jongmense werkvakansies in Londen kon reël. Maar hy's glo so ontnugter deur die jong Suid-Afrikaners se gedrag, dat hy voortaan sy heil as professionele jagter in Suid-Afrika gaan soek. 'n Vinnige Google-soektog sal jou leer hy is (waarskynlik) deesdae die bestuurder van Infinito Safaris, wat jag-uitstappies vir buitelanders reël. En daar, duskant Pretoria, doen hy glo elke aand 'n krygsdans rondom 'n kampvuur nadat hy dawerend Bok van Blerk se song De la Rey gesing het.
Nie? O, jammer. Ek het maar net aangeneem dis wat al die ontnugterde boere deesdae in Pretoria doen.

'n Dag nadat Joylene van Wyk se berig in Die Burger verskyn het, het Van Rooyen ook aan geselsprogramme op Cape Talk en RSG deelgeneem. Ek weet nie of dit oorspronklik 'n Sapa-storie was waarop almal toevallig afgekom het nie, en of die radiostasies Charl se telefoonnommer by Joylene gekry het nie. Dalk het hy sommer self die storie begin om terloops publisiteit vir sy nuwe besigheid te doen. Wie weet.

Wat ek wel wil weet is hoe is dit moontlik dat hy net afskuwelike jong mense hier ontmoet het? Het al die bedagsame en hardwerkende skoolverlaters dan van 1st Contact se dienste gebruik gemaak?
En hoekom is dit vir hom so 'n issue? As dit ek was, sou hulle gedrag my alleenlik gepla het as ek byvoorbeeld (onwettig) kamers aan hulle onderverhuur het, en hulle nie hulle huur betaal het nie, wat gevolglik dan my planne om, seg maar, 'n Safari-besigheid op die been te bring sou beduiwel het. Of soiets.

Dalk dra hy maar net normaalweg die wêreld se probleme op sy skouers, en daarom kan 'n mens hom seker sy stellings vergewe. Waarvoor ek my eintlik vererg het, is Joylene van Wyk se eensydige beriggewing.

Sy haal slegs twee bronne aan. Charl was een. Die ander is 'n naamlose onderwyseres wat reken jongmense maak ons land se naam sleg, want op die moltrein gebruik hulle "die f-woord en spoeg op die platform".

Verder verwys sy ook na 'n jong man wat anoniem wil bly (daar's altyd een!), wat sê groepsdruk in ’n vreemde land is erger as in jou eie land. “Jy drink maar en rook dagga om in te pas.”

Ek wil weet waar kry die joernaliste altyd hierdie Mej. Tiener-tipe persoonlikhede? By Heathrow, oppad huistoe? Of gebruik hulle eenvoudig 'n random quote generator vir stories soos dié? Ek oordryf nie veel as ek sê ek sien hierdie aanhaling elke jaar sedert die ontstaan van News24 op News24 nie. F**, jy hoor dit selfs op KykNet.

Maar ek is self mal daaroor om allerhande wilde stellings te maak. So al dink ek eensydige joernalistiek is onprofessioneel en onverantwoordelik, dink ek tog dit sal gewoon regverdig wees as alle Suid-Afrikaanse koerante voortaan jaarliks 'n variasie op die volgende storie plaas:

LONDEN. Die afgelope vyf jaar het gesoute Suid-Afrikaanse joernaliste hul naam glo so sleg hier gemaak met hul onredelike gedrag en roekelose beriggewing, dat Media24 almal wat hier was bevorder het.

Nadat sy uiteindelik nugter geword het, het 'n jong Suid-Afrikaner gesê sy dink baie joernaliste kom nie net hierheen om te werk nie, maar ook om lewenservaring op te doen. "Maar dink jy hulle leer enigiets? Nee, hulle word te gou deur die lekker lewe ingesluk."

Sy vertel stories wat ’n mens se hare laat regop staan. "Die joernaliste kry gewoonlik 'n drieslaapkamerwoonstel in 'n gegoede buurt soos South Kensington. Maar hulle kan glad nie die vryheid hanteer nie. Hulle kry 'n massiewe toelae om allerhande funksies by te woon, maar mens lees nooit daarvan nie. Hulle verlaat hulle woonstelle alleenlik om Wimbledon-tennis of die Chelsea Blommeskou by te woon. Bewalwe vir die Suid-Afrikaanse sekuriteitswagte met wie hulle noodwendig by hierdie funksies onderhoude voer, beweeg hulle nooit tussen die plebs rond nie."

'n Onderwyseres (of was dit 'n rekenmeester?) wat nie haar naam wou noem nie, sê: "Nie een van hierdie joernaliste betaal huur nie. Gevolglik kan hulle al hulle geld op drank en dwelms blaas."

"Verder", sê sy "is luiheid en onnetheid 'n groot probleem. Hulle stories is beslis wat 'n mens morsige joernalistiek sou noem. Boonop is weinig daarvan oorspronklik. Hulle vertaal net artikels wat in Britse koerante verskyn het, of kry 'n paar aanhalings op die BBC!"

Sy gaan voort: "Ek het nooit gedink ek sal so oor Suid-Afrikaanse joernaliste voel nie. Deesdae sal ek eerder Britse koerante lees in plaas van die k** (jammer, ek kan nie ophou vloek nie!) wat Suid-Afrikaners uit hulle duime suig."

Sy wil graag hulle base by Media24 waarsku: "Julle dink julle doen joernaliste ’n guns, maar eintlik mors julle net geld. Hulle is nie gereed vir die vryheid nie, en het dit waarskynlik ook nie nodig nie."

Haar raad is: "Gee liewer vir hulle 'n woonstel in Seepunt en 'n broadband-konneksie. Dan kan hulle sommer daar die Daily Mail op die Internet lees. Dit sou beter wees as wat hulle vir dae aaneen in ontwerper-sokkies deur 'n massiewe woonstel in South Kensington ronddwaal, terwyl hulle hulle oor die lot van jong Suid-Afrikaners in Londen kwel."

’n Joernalis wat nie haar naam kon noem nie al wou sy (dis moeilik met twee cocktail-worsies in jou kies), sê groepsdruk in ’n vreemde land is erger as in jou eie land. "Daar's soveel funksies om by te woon. En oral kry jy gratis kos en drank. Mens kan nie help om jouself te vergryp nie. Die lewe hier is een groot partytjie. Oester?"

(SA Times, Feb 2007)

3 comments:

Lammervanger said...

Dit was uiters genotvol.

Christine said...

Dankie :-)
Ek dink as ek eendag weer vir Die Groep wil werk, sal ek moet ontken dat ek dit ooit geskryf het.

Do Kwang said...

Dis fokken hilarious.
Al wat ek wonder, is wat daai voormalige "Christelike waardes" is wat volgens Van Rooyen met brassery vervang is. Ek was in 2000 daar en toe al het ons op al wat 'n sypaadjie is gepis as ons gesyp van Soho af terugkeer saans - dit was net 'n gespyker en 'n gevloek waar jy kyk. En ek sien eerlikwaar nie hoe dit verskil van wat die afgelope week hier op Stellenbosch se strate aangaan nie.