Wednesday, April 18, 2007

Jedzcie, pijcie i popuszczajcie pasa

Oftewel: Eet, drink en maak los jou belt, soos die Pole sou seg, want deesdae het hulle selfs hul eie rak in al wat 'n supermark is.
(En ons was opgewonde om rooibostee en Mrs Balls in 'n winkel te sien.)



Met die kan niemand meer die massiewe Poolse immigrasie ontken nie. Toe die advertensies vir Poolse produkte 'n paar jaar gelede begin verskyn het, het mense (Britte, meen ek) dikwels die "Polish" verwysing op advertensieborde buite winkels met skoenpolitoer verwar. ("Wat bedoel hulle met Skoenpolitoer Kafee binne?") Lankal nie meer nie. Deesdae is die Pole amper soos die VK se vyfde nasie. Hulle is so gretig om te integreer, dat hulle selfs onlangs hulle eie tartan in Skotland gekry het. En dit sal seker ook nie lank wees voor die Britte gaan maak of hulle self beetsop uitgedink het nie.

Ingelegde Poolse kos word al lankal in kafees verkoop, maar niemand (behalwe Pole) het 'n idee gehad wat dit is nie. Die worsies, ja. Die's ons al moeg voor. Maar ons het by die ingelegde bottels verbygehou. Die prentjies lyk meestal soos afval, sien. So jy kan nie daarop gaan nie. Maar nou dat dit in Sainsbury's te koop is, het alles vertalings by. Dit IS, blyk dit, meestal afval. Maar dit het mooi, aptytlike, name soos Hunter's stew, en so.

Die Britte was aanvanklik bang vir al die immigrante. Nou, vermoed ek, weet hulle nie hoe hulle voorheen sonder hulle klaargekom het nie.

No comments: