Mens dink altyd dis drank en dwelms en ATKV-gesinsvakansies wat die slegste in mense uitbring. Maar daar’s ‘n groter gevaar.
Die ding betrap jou onverhoeds. Jy besef eers alles het te ver gegaan as jy jouself met bollende kieste in die spieël betrap. En dis nie mooi nie.
Gewoonlik gebeur dit net met koshuiskinders en mense oorsee. (Minderbevoorregtes, kan jy maar sê). Jou ma dink sy doen jou ‘n guns en stuur vir jou ‘n “pakkie” saam met iemand wat jou kleinniggie ken wat jy vier jaar laas gesien het en wat ‘n dagreis uit Londen bly.
Groot opgewondenheid in jou huis - weke voor die tyd. Iemand kry ‘n pakkie! Later kry “ons” sommer ‘n pakkie.
Die ongeskrewe reëls van pakkies is baie ingewikkeld. Die verwagtings wat te groot is en die aannames wat ongegrond is. Party mense kry baie pakkies, en grotes daarby. Sommige mense kry bykans nooit iets nie, en dan’s dit eerder ‘n pakkietjietjietjie. Van hulle kan nie verwag word om te deel nie (maar slegs as jý ‘hulle’ is).
Eintlik is daar net een reel: Almal moet deel, behalwe jy. Synde ‘n ingewikkelde reël veroorsaak dit ‘n magdom komplikasies.
Jou huis is nooit voltallig nie, behalwe as daar ‘n “pakkie” oppad is. Teen die tyd wat jy met die ding by die huis aankom is almal daar, plus ‘n paar hol wangeriges wat jy nog nooit gesien het nie.
En wat, vra die aasvoëls (het die mense geen skaamte nie?), het jou mammie vir jou gestuur? Ag, sommer net ‘n paar sakdoeke. En? En drie beskuite.
Wys maar! kwyl hulle. Natuurlik weet hulle van die biltong, dink jy gespanne. Jy’s oortuig daarvan. Daar bestaan nie iets soos ‘n pakkie sonder biltong nie. Jy hou hulle met meer as net die nodige suspisie dop. En hulle vir jou.
Dan haal jy gou ‘n paar pienk fizzers uit, gooi dit in die middel van die vloer. Sien hoe hulle mekaar duik, en met vingers in die oë en lang naels in skouerblaaie daarop toesak. Jy glip gou op kamer toe. Gooi met een beweging die deur oop en die biltong tussen jou vuil onderklere. Storm weer ondertoe, net betyds om te sien hoe almal in verskillende hoeke van die vertrek lê en die aas verskeur.
Siestog, dink jy in ‘n oomblik van swakheid. Hulle is ook mos lus. Die tweestryd in jou gemoed is soos die laaste, groot morele dilemma. Ja, siestog, maar mens moet in ag neem dat nie een van hulle al ooit vir jou biltong aangebied het nie.
Daai aand gaan slaap jy vroeg. En elke ander aand tot dit op is. Jy kan niks in die yskas bêre nie. Want daar behoort alles aan almal. En iets wat in drie sakke en koerantpapier toegedraai word, vra vir inspeksie. So kruip jy maar weg in jou kamer. En eet flentertjies op ‘n slag. Omdat ‘n toe deur nog niemand gekeer het nie, luister jy met die grootste inspanning na elke geluid. As ‘n vloerplank kraak verdwyn alle bewyse onder matrasse en bo-op kaste en in broeksakke. Na ‘n ruk begin jy meer waaghalsig wees. Tot iemand die dag jou deur oopruk en jou halflyf in ‘n donker hoek in jou kas aantref. Wat maak jy? Ek pak my kas reg, sou die verkeerde ding wees om te sê. Dis te vergesog. Bly net kalm en seg liewer ek soek skoon sokkies. Dit kan hul tydelik flous.
As iemand die deur oopmaak en jou met enigiets in jou kieste betrap wat groter as ‘n gemiddelde kougom sou wees, nou ja, dan kan jy begin lieg. Maar hulle sal weet, en ongeag wat jy gaan sê jou daad sal onvergeefbaar wees, en jou vriendekring ‘n knou kry. Jy kan netsowel bieg en jou kosbare met die enkeling deel. Dis immers in sy eie voordeel om ook stil te bly.
As jy in ‘n verhouding is, móét jy deel en daardie persoon deel van die komplot maak. Behalwe as jy daardie vrotterige asem andersins kan verduidelik.
Al is daar baie lesse te leer, moet iets wat so ‘n ondergrondse gekolk afgee euwel wees. Vreemd, veral as jy in ag neem dat waar die boertjies saamtrek, hou elke slaghuis ‘n magdom biltong aan.
(Klets 2003)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment