Tuesday, June 17, 2003

Die kuns van dos

Ons het ‘n vriend wat nog nooit baie gretig was om die werksvakansie ding te doen nie. Toe kom kuier hy in Londen vir ‘n paar weke en nou, meen ‘n betroubare bron, oorweeg hy dit wel. Hy’t glo agtergekom die meisies én die Engels is makliker as wat hy gedink het.

Maar dit het niks met die storie te doen nie. Ek wou eintlik net sê dat in die drie weke wat Kobus hier gekuier het, het ons besef: hy’s die een! In ‘n wêreld vol opportuniste, is hý die perfekte dosser. Hier’s nou ‘n man wat (onwetend) die essensie van dos verstaan.

Almal wat in deelhuise bly kry op een of ander stadium dossers. Dit kan iemand se ouers wees wat vir ‘n naweek daar bly, mense wat pas hier geland het, werkloses, of selfs (o, wee) professionele dossers. Hulle het nooit baie geld nie, en julle wil altyd meer hê. Niemand sê nee vir ‘n dosser nie. Ons help tog mekaar. Maar, ja, dis soos om ‘n vreemdeling wat in Desember aan jou strandhuis se deur klop in te laat en te verwag dat jy hom nooit gaan sien of hoor nie, behalwe as hy jou roep vir aandete of vra dat jy jou voete oplig terwyl hy stofsuig.

Verwagtinge oor dossers is dalk effens onredelik, toegegee, maar dis deel van die pakket. Ons het ook berus by die gedagte dat ons altyd net sal wens en skimp oor die deugde van ‘n ordentlike dosser. Maar toe kom Kobus…

So, wat is dit - hierdie skaars spesie, die ideale dosser?

Die woordeboekdefinisie – soos die mense lief is om te sê – is:

Dos

snw.
1. Om te slaap waar daar plek is. Voorbeelde: bank (met/sonder gat); grond (met/sonder matras); gang
2. Om vroegoggend reeds al jou besittings (beter bekend as “jou k*k”) uit die pad te skuif om minimum ongerief vir ander huisbewoners te veroorsaak

Dosser

Snw.

1. Iemand wat begryp dat hy geen regte het nie en daarin berus – ongeag hoeveel dosgeld hy betaal.

Dis regtig nie so moeilik nie. Ek meen, die eerste reël van dos is die dosser mag mag nie kla nie. Die tweede reël van dos is die dosser mag nie kla nie. Die derde reël van dos is die dosser mag nie eens lyk of hy wil kla nie.

Dis al. Maar dit blyk die grootste probleem te wees. Mense is nog bereid om enige plek te slaap, maar dan wil hulle skielik hulle terrein afbaken en sekere verwagtinge koester. Die punt is - waar dit dossers raak, kom bedagsaamheid net van een kant af.

Die perfekte dosser, kan mens maar sê, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie.

Gestel daar kom ‘n paar jongmense Londen toe tydens hul Universiteitsvakansie. Vanuit die staanspoor is ons supervriendelik. Dis mos onse mense en ons weet dis nie maklik nie. Maar gestel een van hulle vra vir water en hou die glas teen die lig en trek baie beslis ‘n bolip op en ‘n ander kreukel ‘n wenkbrou oor daar nie plek is om hul klere op te hang nie – dan verdwyn die gemoedelikheid. Niks meer glimlaggies en gunsies nie. As die mense half skrikkerig is, sal hulle probeer om konfrontasie te vermy. Wat wys is. Byvoorbeeld, as een van hulle die volgende oggend 5vm moet opstaan om te gaan werk, en een van die huismense sit 1.30vm die lig aan om TV te kyk – op ‘n kanaal wat uit hysbak-musiek en dierse geluide bestaan – is dit beter om grootoog te lê en luister, want om rond te rol en te sug sal net die lewe vir jou en al jou vriende moeiliker maak. Vir ewig.

Beginner-dossers sal hul nog daaraan steur as hul berispe word. Hulle sal ten minste probeer. Vir hulle is daar hoop (en dalk oorskietkos).

Dan kry jy die’s wat dink hulle mag ‘hulle’ kamer (die sitkamer) se deur sluit of versoek dat niemand na 11 daar mag in nie. Maar dit werk nie so nie. As die huisbewoners hulle dan nie daaraan steur nie, en die dossers dink dis wys om al hul swaar bagasie teen die deur te pak, dan moet hulle nie skrik as daar ‘n byl of ‘n stoel deur die deur kom en hulle in die middel van die nag in die hoofstraat moet wag vir ‘n nagbus na wie weet (oftewel ons gee nie ‘n f** om) waar nie.

Die mees skaamtelose van dossers is egter die familie van ‘n sekere “Elizabeth”. Sy wou vir haar neef en sy vrou, Prins en Prinses Michael van Kent, die grootste, beste trougeskenk gee (verkieslik een waarvoor sy nie self hoef op te dok nie) – en sê toe hulle kan by Kensington Paleis intrek. Toe vind iemand uit hulle betaal slegs (ongeveer) £69 per week om daar te bly. (Dit is wat mense sou betaal om ‘n kamer te deel, in ‘n huis met ag mense en een badkamer).
O, maar soms moet hulle ‘n lint knip en ‘n lekker paartie bywoon, seg die Paleis toe die volk bietjie begin brom. Nou - hoe edel - gaan die koningin vir die volgende ses of sewe jaar hul huur uit haar eie sak (vol belastingbetalersponde) betaal, voor hulle iewers elders gaan aftree.

En soos die storie loop, is dit glo die ware oorsprong van die woord ‘tossers’.

(Klets 2003)

No comments: