Sodra ek by ‘n kunsgallery instap, gebeur iets met my. Ek raak oombliklik lam en lighoofdig. Bleek en onstabiel. My koors skiet die hoogte in. Ek wonder of mense kan sien hoe siek ek is en soek rond vir simpatie. Mense staar meestal ongesteurd intens voort na die kuns. Hulle wonder seker, soos ek, hoe lank nog?
Hoe lank nog voor ek kan huistoe gaan en sê ja, ek was daar, maar ek’s nou OK.
Dis nie dat ek nie kuns kan waardeer nie. Ek het ook al op my dag Klimt en Warhol prente teen my muur gehad. Selfs Picasso (of was dit Matisse?). Ek kan na ‘n program oor kuns op TV kyk, selfs ‘n boek daaroor lees. Wel… deurblaai. As dit prentjies inhet.
Maar as ek byvoorbeeld ‘n dag in Parys gaan spandeer, is die Louvre nie my eerste stop nie. Toevallig was die museum wel op my pad, en na ‘n groot gestoei deur omtrent 45 Japanese met hul arsenaal kameras het ek die Mona Lisa gesien. Ook net genoeg om gegrief te wonder of dit werklik dít is?
Ek was ook al in die massiewe National Gallery. En nie net om weg te kom van die kamakazi-duiwe op Trafalgar Square nie. Ek en twee maters wou Die Sonneblomme sien. Estelle, kunskenner en informasieplakkerleser van formaat, moes die voortou neem. Sy was ook die selfaangestelde houer van die heilige gallerykaart.
Na sowat 20 minute het ek en Yolanda koorsig op die sagte besigtigingsbankies lê en giggel. Ek het gewonder of ons simptome aansteeklik was en wat my laaste onsterflike woorde sou wees. My arme moeder sou haarself verkwalik omdat sy altyd volhou mens moet als beproef.
Daar was egter geen rus. Vir die volgende paar uur moes ons, onder opdrag, van die een gallery-uithoek na die ander draf. Die vleuel met die sonneblomme sou 5pm oopmaak. Intussen moes ons voor 4pm Da Vinci en Raphael sien. Daarna sou ons ‘n uur vir Michaelangelo hê. Ek en Yolanda was so swak, ons kon nie die absurde uitleg en logika bevraagteken nie.
En toe, skielik, nadat Estelle ons ewige stilswye laat sweer het, bely sy verleë sy’t die jaartalle op die inligtingpamflet verwar met openingstye. Die vleuel met die sonneblomme is dus nie slegs van 5pm tot 7pm oop nie, dit bevat bloot kuns van 1700 tot 1900.
Ons het vir ‘n respektabele aantal sekondes by die sonneblomme getalm, gegrief gewonder of dit werklik dít is en gehoop daar’s iewers ‘n Happy Hour.
Groot kuns stel dikwels teleur. En moderne kuns?
In Londen begin die simpel seisoen met die Turner-uitstalling in die Tate Britain. Dis ‘n
kompetisie met ‘n £20,000 prysgeld vir kunstenaars onder 50 wat die afgelope jaar ‘n indrukwekkende uitstalling gehou het. Dit word beskou as een van die mees gesogte pryse vir visuele kunste. Verlede jaar se wenner, Martin Creed, se uitstalling het onder meer bestaan uit ‘n leë kamer met ‘n lig wat aan en af gaan. Hy was natuurlik nooit in ‘n koshuis waar jy vir die soort ding gelooi is nie. Die man het bekend geword deur papier in bondeltjies te frommel. En om stukkies wondergom op gallerymure te plak. Creed was nie ‘n gewilde wenner nie. Een vrou het selfs eiers teen die vertrek se mure gaan gooi. Sy’t dit dalk gedoen namens almal wat nie die potensiaal in hul frommels gesien het nie.
Die finaliste se uitstallings vanjaar sluit onder meer in deurlopende kommentaar oor ‘n bloufilm, ‘n maagdraaier-voëlvlug geneem deur ‘n kamera gemonteer op ‘n afstandbeheer helikopter en ‘n installasie van Plexiglas, aluminium en hout (lees: ‘n interessante plafon wat jy sal sien as jou oë eventueel boontoe rol). My gunsteling uitstalling sluit Die Denker, ‘n rekenaar, in. Die kunstenaar voer ‘n klomp data in die rekenaar. Dié stel dan blindelings ‘n kombinasie saam as opdrag vir die kunstenaar. Byvoorbeeld, gaan heen en verf 366 broodborde.
Die enkele uitsondering ten spyt, was ek taamlik broos toe ek die gallery verlaat.
Is dit werklik dít? het ek bekommerd gewonder. Is dit die toekoms van kuns? Selfs die Kultuur-minister, Kim Howells, wat kuns studeer het, het op die kennisgewingbord by die uitstalling gal gebraak: "It is cold, mechanical, conceptual bullshit.” Wie’s ek om te stry.
Dalk het mense verward geraak tussen wat kuns is en wat ‘n kuns is. Dis nie kuns om ‘n lig aan en af te sit nie. Maar dis dalk ‘n kuns om jou lag te hou as jy sien hoe mense daarvoor val.
(Klets 2003)
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment