Friday, December 09, 2005

Die feite agter die flou grappies

'n Paar dae gelede het ek oor David Cameron geskryf:

"... Sommige beweer selfs hy is verlangs familie van die Koningin. (Nie dat dit so uitsonderlik is nie - haar man is vermoedelik ook verlangs familie van haar.)"

En nou, met behulp van Google (my getrouste bron, waarsonder ek inderdaad nie my dagtaak sou kon verrig nie), kan ek bevestig dat (a) dit werklik nie uitsonderlik is om verlangs familie te wees van die Koningin nie, en (b) die Koningin wel verlangs (maar naby genoeg!) familie is van haar man.

William IV en sy langtermyn minnares, Dorothy Jordan, het glo so baie buite-egtelike kinders gehad, dat dit nie ongewoon is om 'n verlangse familielid van die Koningin op te spoor nie. En as David Cameron hulle "great-great-great-great-great-grandson" is, soos wat stamboon navorsers beweer, dan is dit uit hierdie verhouding waar sy blou bloed vandaan kom.

Wat die Koningin se verhouding met haar man, Philip, betref:
Sy oupa het met een van Koningin Victoria se kleindogters getrou. Wat beteken hy en die Koningin is albei agter-agter-kleinkinders van Koningin Victoria.
Hulle is ook familie aan Philip se pa se kant. 'n Oupa van hom, was 'n oumagrootjie van haar se broer. Of soiets. Julle kan alles hier gaan uitfigure.

Dit maak nie saak nie, sal julle sĂȘ. Die Koningin se kinders lyk tog semi-normaal.
Miskien. Maar dit wil voorkom - as mens als glo wat op Republikeinse websites staan (en hoekom sou jy nie?) - asof ten minste twee van hulle buite-egtelik is. Prins Andrew is glo die seun van 'n Lord Porchester, met wie die koningin lekker oor perde gepraat het. En Prins Edward is glo die seun van 'n Baron Patrick Plunket, wat Deputy Master van die Royal Household was.
Hierdie tipe goed word beweer omdat sy baie hegte vriendskappe met beide mans gehad het, asook omdat Edward en Andrew glo baie na hulle lyk, en omdat baie mense glo sy wou Prins Philip trugkry oor hy al die jare soveel buite-egtelike verhoudings gehad het.

As al hierdie vuil wasgoed net bietjie in die openbaar gewas sou word, sou ons te minste gedink het die Koninklikes is interessant. Nou sal ons vir ewig moet wonder of die volgende Koning van Engeland nie dalk een of ander melkman se seun is nie.

No comments: