Wednesday, December 07, 2005

Wat 'n man!

Is die nuwe leier van die Tory party nie 'n besonders indrukwekkende voorbeeld van die manlike spesie nie?
Ek is beslis nie die Tories se grootste aanhanger nie, maar as dit van hom afhang draai my stem (wat ek nog nie in diƩ land uitgebring het nie) dalk voor die volgende verkiesing. In vergelyking met sy voorganger, wat die hare op my nek, rug en bolip laat regop staan het, is David Cameron 'n ware leier, uiters cool (sy gunsteling album van alle tye is The Queen is Dead van The Smiths!), en sonder twyfel die man wat die Konserwatiewes weer trug in No. 10 kan kry.

Lewenslange Tory-ondersteuners is mal oor die nuwe goue seun van hulle. Nie net oor sy superster-kwaliteite nie, maar ook oor sy indrukwekkende bloedlyn wat drie prominente Konserwatiewes van die laat 19e- en vroee 20ste eeu insluit. Sommige beweer selfs hy is verlangs familie van die Koningin. (Nie dat dit so uitsonderlik is nie - haar man is vermoedelik ook verlangs familie van haar.)
Cameron se vrou is ook nie sommer enige pleb nie. Die BBC berig dat "research on Mrs Cameron's family tree by Cracroft's Peerage suggests that Nell Gwyn, the mistress of Charles II, is her great, great, great, great, great, great, great, great grandmother". Vatso.

Hierdie tipe inligting is geweldig belangrik in Tory-geledere.
Anne het byvoorbeeld een maal 'n jaar vir haar posh oom (van Hongaarse aristokrasie) en sy vrou in Fulham gaan kuier. Terwyl sy nog supply teaching gedoen het, was hulle altyd vriendelik en gasvry. Maar toe noem sy eendag dat sy 'n vaste werk by 'n privaatskool naby Sloane Square het. Dit is toe toevallig die skool waar die oom en sy kinders ook was. Daaroor is hulle toe so gelukkig, dat Anne sommer dadelik uitgenooi word om die week daarna weer te gaan kuier sodat sy saam met die tannie en haar maters port kan drink en carols kan sing.

(In geval hulle kan Afrikaans verstaan, wil ek net beklemtoon dat Anne nooit impliseer het dat hierdie familie van haar statusbewus is nie. Dis maar net hoe ek verkies om dit oor te vertel, vir julle vermaak.)

No comments: