Ek sal nie gou weer moeite doen om na die Turner Prize uitstalling te gaan nie. Been there, done that; klaar oor die trauma gepraat.
Maar ek dink vanjaar se wenner, Simon Starling, is nogals interessant. Vir hom gaan dit oor "slowing things down, about trying to retard this incredible speed at which we live". Ek hou daarvan. Dis mooi. (Ek gaan dit vir my baas sê as ek weer 10-uur by die werk aankom!)
So het hy byvoorbeeld eendag langs die Ryn gaan fietsry, op 'n houtskuur afgekom, en die eienaars omgepraat om dit vir hom te leen vir 'n projek. Toe breek hy die skuur af, maak 'n boot daarvan, vaar sewe myl rivier af (of op?) tot by Basel, haal die boot uitmekaar, bou weer 'n skuur met die hout, sit dit in 'n gallery, en noem dit Shedboatshed.
Op 'n ander geleentheid, het hy met 'n elektriese fiets deur die Spaanse woestyn gery, en die fiets se enigste afvalproduk (water) gebruik om 'n kaktus te verf toe hy weer by die huis kom.
Ek dink iets wat sy werk dalk aantreklik maak (vir my in elk geval), is die feit dat dit soos een lang vakansie klink. Maar as jy verby dit in 'n kunsgallery sou stap, kan jy seker dink: Skuur. Kaktus. What the?
As mens die stories agter die uitstallings ken, word dit onmiddellik baie interessant, maar is dit kuns? Indien wel, kan jy mos elke tweede kroegvlieg wat jy ontmoet in 'n gallery staanmaak en sê dis kuns?
Die antwoord is ja, jy kan, en iemand het al.
Jarre trug het ek vir 'n paar weke as 'n sekuriteitswag op die South Bank gewerk. Ek was meer van 'n steward as 'n bouncer, maar dis nie ter sake nie. Eendag kom 'n meisie verby en sy staar na my. Loop aan, draai om, staar. En toe kom sy trug en vra of sy asseblief 'n afspraak kan maak om my foto te neem. Ek dog hier word ek wragtag vandag gediscover soos Tanya Fourie. En: Waar's die hidden camera?
En ek seg: Nee, beslis nie!
Ja, natuurlik! sê een van my kollegas. Maar jy moet toestemming kry om hier foto's te neem.
Sy sal, sê sy.
Waarvoor is dit? vra ek.
Vir haar vroue-in-uniform projek sê sy.
Ek dink nie so nie! sê ek ferm, soos dit 'n vrou-in-uniform betaam. Lyk ék miskien vir jóú soos 'n vrou-in-uniform? wou ek vra. Want vir my is 'n vrou-in-uniform iets soos 'n tewerige boetebessie. En hoekom kan sy my nie afneem as ek een maal in sewe jaar gym toe gaan en dan sê ek's 'n atleet nie?
Ek sê toe net 'n duisend maal nee, en sy 'n duisend maal seblief, tot sy uiteindelik huilerig daar wegloop. 'n Paar maande later sien ek haar op 'n dag in die Guardian en die Times. Toe's sy 'n finalis in een of ander kuns-kompetisie, en deel van haar uitstalling was 'n klomp mense in verskillende uniforms wat rondstaan in 'n gallery.
So: as ek amper kuns was, kan enigiets seker kuns wees - dit hang maar net af wie daarna kyk.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment