Friday, October 17, 2003

Blaine onnosel

As jy nog iets na David Blaine se perspex box wou gooi, beter jy jou litte roer. Die 44 dae wat die New Yorker alleen in die 7x7x3 ruimte saam met slegs ‘n kussing, mat, dagboek, penne, lipsalf en doeke wil deurbring is amper om.

Selfs al beplan jy dit nie, vat maar ‘n gooiding saam. Die teiken is regtig uitlokkend as jy eers daar is. Hou in gedagte dat hy, toe hy aan die einde van sy eerste week ‘n vuil doek in ‘n sak tussen die mense laat val het, een van die eerstes was om goed te begin gooi. Onthou ook, as jy beplan om dit met verfbomme of gholfballe of eiers te doen, jy nie die eerste sal wees nie. O, en moet hom nie gaan soek “onder” die Tower Bridge, “bo-oor” die Teems, soos daar wyd en syd geadverteer is nie. Soek so ‘n entjie anderkant die brug, weg van die rivier – hy hang daar iewers aan ‘n hyskraan.

As jy gaan, moenie eetgoed vergeet nie. Mens raak onbeskryflik honger as jy so kyk na die man. Dit kan dalk wees omdat daar so baie hotdog toeriste-trollies geparkeer is. En daar is immers min dinge so onweerstaanbaar soos die reuk van gebraaide uie.

Hulle het ‘n opname onder Londenaars gemaak oor tien goed wat jy eenvoudig hier moet doen. Een daarvan was glo om – al weet jy van beter – ‘n hotdog by so ‘n trollie te koop. Daarna nooit weer nie – dis een van daardie lesse wat jy op ‘n onaangename manier na ‘n lang aand in jou toilet se teenwoordigheid leer. Maar, die reuk van gebraaide uie is onweerstaanbaar, en toeriste weet natuurlik nie van beter nie. Hulle sien nie hoe die eienaars van daardie trollies dit soggens vroeg onder ‘n brug of afdak uitsleep, vlugtig die duifstront met ‘n vuil lap afvee en dan begin uie braai om ‘n strik vir almal met reuksintuie te stel nie.
“Let’s go watch him DIE” sê ‘n pokkel voor my, en prop twee derdes van die euwel in haar kieste.

Dit is "the most extreme exercise in isolation and physical deprivation ever attempted" seg die man na wie daar ook as ‘n hedendaagse Houdini verwys word van sy eie toertjie.
Dis duidelik dat hy nog nooit in lieflike Desember-weer alleen in ‘n koshuis wat na sonbrandolie en draairoomys ruik moes agterbly om ‘n her te skryf nie.

Dis ook nie asof ander mense nie werklik deur hierdie proses gaan nie. Hulle kies dit net nie. En hulle word nie (‘n beweerde) £4 miljoen daarvoor betaal nie. Dit lyk ook aansienlik minder traumaties in sy geval, soos hy daar flouweg vir die mense lê en wuif.

As ek ooit die begeerte kry om my liggaam en gees tot die uiterste te beproef, sal uithongering die laaste manier wees.

Ek en my maters Estelle en Sonika het immers tydens een eksamen tot die besef gekom, en terstond ‘n eed gesweer, dat ons nooit honger of dors sou wees nie. Ongeag die omstandighede. As die taak dan laat moet in wees, dan moet dit. Dat jy in daardie 20 minute ‘n ekstra langvraag sou kon leer, is nie ter sake nie.

En so was dit dan dat ons in eksamentye 10-uur sou opstaan – goed uitgerus vir ‘n produktiewe dag. Teen 10.30 staan ons voor in die ry vir doughnuts en tee, sodat ons teen 11.30 kan gaan stort om reg te wees vir die middagete om 12.30. Daarna pak ons ons boeke reg, en doen als wat bevorderlik sou wees vir die studieproses, soos om kaste reg te pak, vloere te vee, ‘n 200 000-stuk legkaart te pak en notas te bedel. Dié moet ons dan in die biblioteek gaan afrol. Maar die druk is groot, want ons moet 4-uur terug wees as die snoepie oopmaak. En sodra jy dan jou sit voor jou boeke kry lui die 5.30 aandete-klok. Teen die tyd is mens al so suf gedink, dat Egoli ‘n essensiele breuk is. Deur die loop van die aand ondersteun ons nog twee keer die snoepie. En (as dit toevallig die aand voor ‘n eksamen is) word die wekkers vroegaand al vir 3vm gestel, rol die eerste trane om 0.30 en ontwikkel jy om 1.15vm ‘n dodelike koors waarteen jy dapper probeer veg (met ‘n bietjie boerbeskuit en rooibostee).

As Blaine nie glukose saam met sy water inkry of cereal bars tussen sy doeke wegsteek nie, beteken dit eenvoudig hy weet nie hóé nodig ‘n mens wat daagliks strawwe intellektuele inspanning moet verduur ‘n ou stukkie kos het nie. So, hy’s of dom of hy’s ‘n cheat. En so ‘n mens stel ek nie aan een van my enkellopende vriendinne voor nie.

(Nota aan my ouers: ek oordryf gewoonlik vir dramatiese effek.)

(Klets 2003)

Wednesday, September 17, 2003

Niemand hou ‘n horlosie dop soos ‘n temp nie

Daar’s baie redes waarom mense besluit om te temp. As jy nie dadelik ‘n ‘regte’ werk kry nie moet jy maar die alternatiewe begin oorweeg. En as jy vinniger as 35 woorde per minuut kan tik is die mees aantreklike opsie dikwels om te temp.

Vir sekretariele- of ontvangswerk kan jy enigiets tussen £6.50 en £9 per uur verdien, en as jy ‘n opgeleide regs- of mediese sekretaresse is, enigiets bo £12 per uur. Sommige mense temp net omdat hulle hou van die vryheid wat dit bied. Jy kan elke paar dae of weke by ‘n verskillende plek werk. Jy hoef ook net ‘n week kennis te gee, so as jy vir ‘n maand wil werk en dan vir ‘n maand wil vakansie hou, kan niemand jou keer nie. Nog ‘n bonus is dat jy elke week betaal word, so dis ideaal vir mense wat pas hier aangekom het of wat na maande se vakansie weer terugkeer.

Voor jy kan begin werk, moet jy eers registreer. Daar’s talle agentskappe om uit te kies en publikasies vir Australiers, Kiwis en Suid-Afrikaners is propvol advertensies van agentskappe met die mees fantastiese werksgeleenthede. Natuurlik is daardie werk nie meer beskikbaar as jy opdaag vir jou afspraak nie. Maar jy registreer in elk geval, en wag ‘n week vir hul oproep. Intussen toer jy maar bietjie in die stad rond, jy’t mos nou jou deel gedoen. Na ‘n ruk begin die werklikheid insink. Daar’t seker ‘n fout gekom, dink jy, en bel hoopvol. Wie? O. Hmm. Nee ons het niks beskikbaar nie. Mooi bly! Dan moet jy maar by ander plekke gaan registreer. Jy ken later die toetse, wat ongeveer twee uur lank duur, uit jou kop. Kort voor lank tik jy konstant 80wpm tik en kry jy niks onder 98% vir jou Word, Excel en PowerPoint toetse nie. Dan is jy skielik ‘n top-kandidaat, en almal wil weet waar jy die heeltyd was. Jy kry sommer vinnig ‘n ‘wonderlike’ geleentheid in Oxford straat, waar jy ‘baie gelukkig’ sal wees. Geluk is, in my geval, nie om ses dae ‘n week data entry te doen, met ‘n superteef van Durban, kom ons noem haar maar Ingrid, as ‘n baas nie.

In die beroep is tyd definitief geld. Daarom vat jy net 20 minute middagetes (die minimum wat jy verplig word om te vat). Sien, as jy 40min ‘n dag ekstra werk, is dit omtrent £70 ‘n maand na belasing. ‘n Week se huur.
Mense soos ‘Ingrid’ sal weet van elke minuut wat jy bylieg. Maar ander plekke, soos, seg maar, Inland Revenue verloor weer duisende ponde elke jaar aan gedokterde timesheets. As elke temp wat vir hulle werk ‘n halfuur per week aanlas, en gestel daar’s 20 temps, dan verloor hulle ongeveer £1,200 (sonder agenskapfooie) per maand. Daarvan kry hulle darem ook ‘n bietjie belasting! So, almal wen. Dan loop almal ook nog daar weg met ‘n paar notaboeke, penne en printouts van lekker vakansieplekke. As hulle in ‘n hoëkop se kantoor werk, eet hulle boonop gate in die koekieblik. Vir elke koekie wat ‘n gas kry, kry hulle ook. Dis nou die gevolge van ‘n een-vir-jou-een-vir-my opvoeding.

Elke Vrydag moet jy jou timesheet deur jou baas laat teken, en dit dan pos vir die agentskap. Ek het met my eie oë gesien hoe ‘n meisie wat 1.45pm sou huistoe gaan na die tyd ‘n ses langs die een ingevul het. Ek was stomgeslaan. En naar. Ek kon nie glo ek het nog nooit daaraan gedink nie. Maar ek’s eintlik ‘n bietjie lig in die broek vir soiets, al was ek glo ‘n bietjie van 'n klep in die Kleuterskool. Maar derduisende ander is nie. Hier oorleef die uitgeslepenes. Beter as die res ten minste. Maar mens gun dit vir ander, soos jy dit gun vir mense wat belasting ontduik. Dit raak jou mos nie.

Temping is vol uitdagings, waarvan die grootste is om papercuts te vermy. Jy is so onmisbaar soos ‘n faksmasjien. Maar die faksmasjien word beter behandel. Verder, met ons vreemde aksente, is dit soms moeilik vir temps en die mense by wie hul werk om te kommunikeer. As jy praat, kyk mense jou dikwels uitdrukkingloos aan. En as jy stilbly en wag dat hulle hul skeur vir jou briljante grappie, kyk hulle jou steeds uitdrukkingloos aan. Of na die horlosie en dan, na ‘n halfminuut, Yeees, riiiigh, okiedoke, take care. Suid-Afrikaners, vermoed ek, is minder subtiel. En met veral Noord Iere, Skotte, Waliesers, Scousers (‘n spesie van Liverpool) en mense van Yorkshire bestaan ‘n Suid-Afrikaner se bydrae meestal uit Huh? Jy vrees telefoongesprekke. Hier’s ‘n algemene voorbeeld: Hello uhm (naarstigtelike gesoek na jou baas se naam) so and so se office?
Jibbidie jibbidie jibbidie jibbidie jibbidie jibbidie, sê die stem.
Huh? Sê jy.
Jibbidie! JIBBIDIE!?? Hulle is haastig. Uhm.
Riiight, sê jy vrolik, okiedoke, take care! En skryf maar vir die baas ‘n klink-soos boodskap.

(Klets 2003)

Monday, August 18, 2003

Glastonbury is een boerse paartie

Joe Strummer, oorlede hoofsanger van The Clash – een van Brittanje se suksesvolste groepe ooit, het dit glo gehaat om by die Glastonbury Festival op te tree. Hy wou eerder tussen die mense rondhang. En sedert die musiekfees (die grootste in Europa) se ontstaan in die ‘70s, sou jy hom glo jaar na jaar iewers op die Lost Vagueness veld - waar daar nou vir hom ‘n groot gedenksteen opgerig is - kry.

Waar hý was, sê hulle, was die paartie. Maar meer as dit, hy’t met al wat ‘n karakter is gesels en hom ontferm oor almal wat koud of nat of sonder drank is. Hy’t glo eenkeer vir amper twee dae geluister na iemand se geteem oor sy horlosie. Uiteindelik vra hy toe om gou na die horlosie te kyk. Dié gooi hy toe terstond in die vuur en sê vir die ou “Fokkof nou!” En dit som vir my nie net die die karakter van die man op nie, maar ook die van die fees. Meestal onvoorspelbaar, maar altyd onweerstaanbaar.

As een van die sogenaamde Glastonbury virgins was ek maar skrikkerig vir wat sou voorlê. Die hele bus het stil geraak toe ons reeds ‘n ent van die plaas die massiewe £1 miljoen omheining sien wat diegene sonder kaartjies moet uithou. (In 2000, het derduisende mense ingestroom. En weens die gevolglike chaos het die fees amper sy lisensie verloor.)

Dit voel behoorlik of jy op ‘n weermagkamp gaan – so met die vooruitsig van afsondering en gebrek aan fassiliteite. Die longdrops is boonop legendaries. En, ja, dit wat ek hierdie naweek gesien het behoort niemand op ‘n leë of vol maag te sien nie. Wat dalk verklaar waarom die meeste feesgangers deurentyd op een of ander manier hulle sinne benewel.

Iemand wat nog nooit daar was nie, weet nie wat om te verwag nie. Almal wat gereeld gaan kyk jou net met ‘n as-jy-maar-geweet-het glimlag aan en sê “Dis regtig moeilik om te beskryf”. Maar as jy vroeg Vrydagoggend jou uitgewerkte program saam met jou vooropgestelde idees opfrommel en begin om dit te vat soos dit kom, dan verstaan jy, man. Jy gee sonder enige protes aan die Glastonbury spirit - wat iets tussen ‘n Bybelse ideaal en Fear and Loathing in Lost Vagueness is - oor. En, ek is bevrees, dit ís regtig moeilik om te beskryf.

Hierdie naweek aan die einde van Junie op melkboer Michael Eavis se Worthy Farm is moontlik die weirdste en wonderlikste wat enigiemand ooit kan hê. Daar’s ‘n oneindige verskeidenheid goed om te beleef. Maar dis asof almal so min as moontlik doen en nie regtig kan onthou of hulle gesien het wat hulle dink hulle het nie. Soos die ou wat angstig op ‘n boodskapbord vra of iemand anders ook laasjaar ‘n Spaanse skip sien verbydryf het. (Iemand het gelukkig).

Alles is so absurd jy kan later nie onderskei tussen wat ‘regtig’ is en wat nie.

Daar’s die Healing Fields waar mense heeldag besig is met meditasie en massering, shiatsu of aromaterapie. En iemand wat wil weet hoekom jy nog nie jou tone name gegee het nie.

Op die Lost Field is daar ‘n Casino wat van middernag tot 5vm ‘n kabaret aanbied, waarvoor jy ‘n uitrusting moet huur. Maar as jy byvoorbeeld nie hiervan weet nie, en jy stap een oggend 6-uur slaapbeneweld daar verby en jy sien 30 mense in die eienaardigste uitrustings wat lyk of hulle dit elke dag doen, dan voel dit of jy per ongeluk soos Alice in die rabbit hole geval het.

Die hart van die fees lê in die Sacred fields rondom die Stone(d) circle. Daar’s dag en nag iemand wat tromme speel en begeesterde crusties wat in kringe dans. Sommige wat lyk of hulle al sedert die ‘70s daar kamp. Heelnag deur sit groepies mense om fakkels en kerse en gesels of slaap of staar in die niet – en as die son opkom is daar ‘n oorverdowende gejuig.

En dan die musiek: Ongeveer 200 groepe om uit te kies. R.E.M, Radiohead, Moby, Manic Street Preachers, David Gray en Suede op die Pyramid Stage alleen. Ook Fat Boy Slim, Röyksopp, Chemical Brothers, Doves… Die meeste mense loop maar doelloos van een veld na die volgende. As jy byvoorbeeld afkom op Har Mar Superstar met sy blink bokserbaadjie en manjifieke mullet en dis jou tipe ding, dan vergeet jy maar vir eers van die Inspiral Carpets.

Na afloop van hierdie mal naweek kry almal glo ‘n bietjie van die gevreesde Glastonbury down - elke doodgewone aktiwiteit verg skielik bonatuurlike inspanning, totdat jy genoegsaam herstel om vir die volgende fees te begin beplan. Want een ding is vir seker – jy gaan weer.

Dis nie net die wannabe-hippies van hierdie wêreld wat deur die gogga gebyt word nie: Daar’s so ‘n ongelooflike energie in ‘n Glastonbury-gehoor dat supersterre soos Michael Stipe en Paul McCartney baie mooi vra om daar te speel en dit boonop vir peanuts sal doen. As die energie positief is, kan ‘n optrede hier glo tot ‘n relatief onbekende groep se uiteindelike sterstatus lei – wat wel die geval was vir o.a. Pulp, Oasis en Robbie Williams (na sy breuk met Take That).

Dit blyk egter nou Robbie Williams se ‘sterstatus’ was maar net ‘n mite. Terloops, dieselfde Glastonbury-mites duik jaarliks op, soos dat iemand wat in ‘n toilet geval het net betyds gered is, of dat Cliff Richard tragies gesterf het.

Maar die vreemdste van alles is dalk dat party mense kies om eerder Wimbledon toe te gaan.

(SA Times 2003)

Saturday, August 16, 2003

Pamplona

As een van die grootste byeenkomste in die wereld, behoort Pamplona se bulwedloop in elke dapper reisiger se dagboek te wees. Maar ek het in elk geval gegaan.


Dit was die laaste dag van die bulwedloop - die groot aantrekkingskrag van Pamplona se eeue-oue, jaarlikse San Fermin fees.

Met sonsopkoms reeds het mense begin plekke inneem op die roete waarlangs die bulle (en dalk hulle) enkele ure later sou hardloop - vanaf die kraal waarin die diere oornag aangehou word en die arena (Plaza de Toros), waar hulle almal uiteindelik sou sneuwel.

Ek het vir meer as 'n dag 'n slegte voorgevoel gehad. Teen 7vm het ek paniekerig begin word, en teen 7.45vm was ek totaal vreesbevange. Hierdie dag is my laaste, het ek gedink terwyl ek my naels in my man se arm geslaan het. En ek was maar net 'n toeskouer.

Die Spanjaarde hou nie eintlik daarvan dat vrouens deelneem nie, maar dis nie die rede waarom ek eerder verkies het om vanaf die 6-voet hoe houtreelings, wat elke dag langs die grootste deel van die 800m-roete opgerig word, te kyk nie. Ek raak eenvoudig nie opgewonde by die vooruitsig van 'n kwaai 600kg bul op steroiede wat in my rigting storm nie. Sien, ek het op 'n plaas grootgeword en is deur baie goed gejaag - volstruise, tarentale, donkies, bokke... En al was net my broers werklik 'n bedreiging, kan ek steeds die vrees van 'n potensiele slagoffer onthou. Verder onthou ek ook hoe ek tweede laaste in die 100m naellope gekom het toe skoolatletiek nog verpligtend was.

Behalwe vir vrouens, kinders en dronkies wil baie inwoners van Pamplona ook nie he uitlanders mag deelneem nie. En dit weet ek, omdat dit presies is wat een van hulle vir ons gese het. "Wat's julle?" het hy geskree. "Frans? Duits? Engels? Wat soek julle hier? Hoekom kyk julle dit nie op TV nie?" En hy was huilerig oor die ongeregtigheid totdat almal uiteindelik huis toe is.

Kort voor hulle die bulle loslaat (om 8vm) wil dit lyk of die vroeere sangria-geinspireerde brawade van baie hardlopers vir ernstige besinning begin plek maak. Daar's ongelooflike spanning in die lug, dan raak die hordes toeskouers vir 'n wyle stil in afwagting, en die skoot (wat die loslaat van die bulle aandui) gaan af. Vir bykans vyf minute is dit elke man en elke bul vir homself.

Ons was op die 'pylvak', net voor die Plaza de Toros, so ons moes nog 'n paar angstige minute wag. Baie gou kom die eerste golf hardlopers om die draai - almal tradisioneel aangetrek in wit, met rooi nekdoeke en rooi serpe om hul middellywe. Toe kom daar nog 'n groep mense, wat so te se agteruit loop en resepte uitruil. Want toe die eerste paar bulle om die draai kom met sulke klang-klang-klang klokke om hulle nekke, kon mens hulle verwar met 'n klomp koeie. Hulle het meer soos Ferdinand, daardie storieboekbul wat net rondgesit en blomme geruik het, gelyk as soos die aggressiewe, moordlustige monsters waarvoor ons gewag het. Ek het my naels baie teleurgesteld uit my man se arm getrek. Die mense rondom ons was ewe verdwaas. Ons wou bloed sien! Natuurlik moes ons naby die begin van die resies gewees het toe die bulle nog vars en vinnig wees - ons weet dit nou. Maar toe moes ons, soos die res van die wereld, agterna op 'n kroeg se TV na die hoogtepunte kyk en wonder hoe dit sou voel om daar te wees.

Diegene wat kaartjies gekry het vir die Plaza de Toros kan na die stiervegte kyk, waarin al die bulle wat aan die wedloop deelgeneem het in drie stadiums (tercios) doodgemaak word. Sommige reken dis 'n ongelooflike skouspel en 'n kuns, en beslis iets om te sien. Ander raak histeries oor die sinnelose gemartel van diere. Stierveg-entoesiaste meen 'n geveg met 'n goeie matador is die mees edel manier vir hierdie manjifieke bulle om te sterf.

Ons het nie kaartjies gehad nie, en op daardie oomblik het ons ook nie belanggestel nie. Ons wou net iewers 'n bietjie gaan le. Soos derduisende ander. Ons sien nooit soveel aksie voor nege in die oggend nie, en dit was boonop 'n baie, baie lang nag.

Daardie San Fermin Feesnagte is berug. Hulle hou nooit op nie. Dit begin alles op 6 Julie om 12-uur die middag wanneer almal seremonieel hulle rooi nekserpe opsit. En dit eindig eers die nag van die 14e met 'n optog. Tussenin word die hele ou deel van die stad in een groot straatpartytjie omskep. Sover jy loop is daar 'n aansteeklike karnaval-gees (baie lekker musiek en baie dronk mense), asook 'n onaangenaame dreinreuk, wat mens laat besef die spanning (of die tapas) moet iets verskrikliks wees. Teen 6-uur die oggend hou die partytjies tydelik op as die adrennaliensoekers na die roete waarlangs die bulle gaan hardloop begin beweeg . (Jy moet vroeg gaan as jy 'n goeie staanplek wil he.) Na die wedloop begin die gefuif weer van voor af. Maar op die laaste dag maak alles so vinnig toe, dit voel eintlik onwerklik. Binne 'n paar uur ondergaan die stad 'n totale gedaanteverwisseling. Almal het min of meer genoeg gehad.

Behalwe vir die groepie wat vroegoggend op die 15e terugkeer na die wegspringplek en wag vir die eerste voertuig wat verbykom en dan hardloop hulle maar weer.

(Klets Augustus 2003)

Tuesday, June 17, 2003

Die kuns van dos

Ons het ‘n vriend wat nog nooit baie gretig was om die werksvakansie ding te doen nie. Toe kom kuier hy in Londen vir ‘n paar weke en nou, meen ‘n betroubare bron, oorweeg hy dit wel. Hy’t glo agtergekom die meisies én die Engels is makliker as wat hy gedink het.

Maar dit het niks met die storie te doen nie. Ek wou eintlik net sê dat in die drie weke wat Kobus hier gekuier het, het ons besef: hy’s die een! In ‘n wêreld vol opportuniste, is hý die perfekte dosser. Hier’s nou ‘n man wat (onwetend) die essensie van dos verstaan.

Almal wat in deelhuise bly kry op een of ander stadium dossers. Dit kan iemand se ouers wees wat vir ‘n naweek daar bly, mense wat pas hier geland het, werkloses, of selfs (o, wee) professionele dossers. Hulle het nooit baie geld nie, en julle wil altyd meer hê. Niemand sê nee vir ‘n dosser nie. Ons help tog mekaar. Maar, ja, dis soos om ‘n vreemdeling wat in Desember aan jou strandhuis se deur klop in te laat en te verwag dat jy hom nooit gaan sien of hoor nie, behalwe as hy jou roep vir aandete of vra dat jy jou voete oplig terwyl hy stofsuig.

Verwagtinge oor dossers is dalk effens onredelik, toegegee, maar dis deel van die pakket. Ons het ook berus by die gedagte dat ons altyd net sal wens en skimp oor die deugde van ‘n ordentlike dosser. Maar toe kom Kobus…

So, wat is dit - hierdie skaars spesie, die ideale dosser?

Die woordeboekdefinisie – soos die mense lief is om te sê – is:

Dos

snw.
1. Om te slaap waar daar plek is. Voorbeelde: bank (met/sonder gat); grond (met/sonder matras); gang
2. Om vroegoggend reeds al jou besittings (beter bekend as “jou k*k”) uit die pad te skuif om minimum ongerief vir ander huisbewoners te veroorsaak

Dosser

Snw.

1. Iemand wat begryp dat hy geen regte het nie en daarin berus – ongeag hoeveel dosgeld hy betaal.

Dis regtig nie so moeilik nie. Ek meen, die eerste reël van dos is die dosser mag mag nie kla nie. Die tweede reël van dos is die dosser mag nie kla nie. Die derde reël van dos is die dosser mag nie eens lyk of hy wil kla nie.

Dis al. Maar dit blyk die grootste probleem te wees. Mense is nog bereid om enige plek te slaap, maar dan wil hulle skielik hulle terrein afbaken en sekere verwagtinge koester. Die punt is - waar dit dossers raak, kom bedagsaamheid net van een kant af.

Die perfekte dosser, kan mens maar sê, handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, word nie verbitterd nie.

Gestel daar kom ‘n paar jongmense Londen toe tydens hul Universiteitsvakansie. Vanuit die staanspoor is ons supervriendelik. Dis mos onse mense en ons weet dis nie maklik nie. Maar gestel een van hulle vra vir water en hou die glas teen die lig en trek baie beslis ‘n bolip op en ‘n ander kreukel ‘n wenkbrou oor daar nie plek is om hul klere op te hang nie – dan verdwyn die gemoedelikheid. Niks meer glimlaggies en gunsies nie. As die mense half skrikkerig is, sal hulle probeer om konfrontasie te vermy. Wat wys is. Byvoorbeeld, as een van hulle die volgende oggend 5vm moet opstaan om te gaan werk, en een van die huismense sit 1.30vm die lig aan om TV te kyk – op ‘n kanaal wat uit hysbak-musiek en dierse geluide bestaan – is dit beter om grootoog te lê en luister, want om rond te rol en te sug sal net die lewe vir jou en al jou vriende moeiliker maak. Vir ewig.

Beginner-dossers sal hul nog daaraan steur as hul berispe word. Hulle sal ten minste probeer. Vir hulle is daar hoop (en dalk oorskietkos).

Dan kry jy die’s wat dink hulle mag ‘hulle’ kamer (die sitkamer) se deur sluit of versoek dat niemand na 11 daar mag in nie. Maar dit werk nie so nie. As die huisbewoners hulle dan nie daaraan steur nie, en die dossers dink dis wys om al hul swaar bagasie teen die deur te pak, dan moet hulle nie skrik as daar ‘n byl of ‘n stoel deur die deur kom en hulle in die middel van die nag in die hoofstraat moet wag vir ‘n nagbus na wie weet (oftewel ons gee nie ‘n f** om) waar nie.

Die mees skaamtelose van dossers is egter die familie van ‘n sekere “Elizabeth”. Sy wou vir haar neef en sy vrou, Prins en Prinses Michael van Kent, die grootste, beste trougeskenk gee (verkieslik een waarvoor sy nie self hoef op te dok nie) – en sê toe hulle kan by Kensington Paleis intrek. Toe vind iemand uit hulle betaal slegs (ongeveer) £69 per week om daar te bly. (Dit is wat mense sou betaal om ‘n kamer te deel, in ‘n huis met ag mense en een badkamer).
O, maar soms moet hulle ‘n lint knip en ‘n lekker paartie bywoon, seg die Paleis toe die volk bietjie begin brom. Nou - hoe edel - gaan die koningin vir die volgende ses of sewe jaar hul huur uit haar eie sak (vol belastingbetalersponde) betaal, voor hulle iewers elders gaan aftree.

En soos die storie loop, is dit glo die ware oorsprong van die woord ‘tossers’.

(Klets 2003)

Sunday, June 15, 2003

Die politiek van pakkies

Mens dink altyd dis drank en dwelms en ATKV-gesinsvakansies wat die slegste in mense uitbring. Maar daar’s ‘n groter gevaar.
Die ding betrap jou onverhoeds. Jy besef eers alles het te ver gegaan as jy jouself met bollende kieste in die spieël betrap. En dis nie mooi nie.

Gewoonlik gebeur dit net met koshuiskinders en mense oorsee. (Minderbevoorregtes, kan jy maar sê). Jou ma dink sy doen jou ‘n guns en stuur vir jou ‘n “pakkie” saam met iemand wat jou kleinniggie ken wat jy vier jaar laas gesien het en wat ‘n dagreis uit Londen bly.
Groot opgewondenheid in jou huis - weke voor die tyd. Iemand kry ‘n pakkie! Later kry “ons” sommer ‘n pakkie.

Die ongeskrewe reëls van pakkies is baie ingewikkeld. Die verwagtings wat te groot is en die aannames wat ongegrond is. Party mense kry baie pakkies, en grotes daarby. Sommige mense kry bykans nooit iets nie, en dan’s dit eerder ‘n pakkietjietjietjie. Van hulle kan nie verwag word om te deel nie (maar slegs as jý ‘hulle’ is).

Eintlik is daar net een reel: Almal moet deel, behalwe jy. Synde ‘n ingewikkelde reël veroorsaak dit ‘n magdom komplikasies.

Jou huis is nooit voltallig nie, behalwe as daar ‘n “pakkie” oppad is. Teen die tyd wat jy met die ding by die huis aankom is almal daar, plus ‘n paar hol wangeriges wat jy nog nooit gesien het nie.
En wat, vra die aasvoëls (het die mense geen skaamte nie?), het jou mammie vir jou gestuur? Ag, sommer net ‘n paar sakdoeke. En? En drie beskuite.
Wys maar! kwyl hulle. Natuurlik weet hulle van die biltong, dink jy gespanne. Jy’s oortuig daarvan. Daar bestaan nie iets soos ‘n pakkie sonder biltong nie. Jy hou hulle met meer as net die nodige suspisie dop. En hulle vir jou.
Dan haal jy gou ‘n paar pienk fizzers uit, gooi dit in die middel van die vloer. Sien hoe hulle mekaar duik, en met vingers in die oë en lang naels in skouerblaaie daarop toesak. Jy glip gou op kamer toe. Gooi met een beweging die deur oop en die biltong tussen jou vuil onderklere. Storm weer ondertoe, net betyds om te sien hoe almal in verskillende hoeke van die vertrek lê en die aas verskeur.
Siestog, dink jy in ‘n oomblik van swakheid. Hulle is ook mos lus. Die tweestryd in jou gemoed is soos die laaste, groot morele dilemma. Ja, siestog, maar mens moet in ag neem dat nie een van hulle al ooit vir jou biltong aangebied het nie.
Daai aand gaan slaap jy vroeg. En elke ander aand tot dit op is. Jy kan niks in die yskas bêre nie. Want daar behoort alles aan almal. En iets wat in drie sakke en koerantpapier toegedraai word, vra vir inspeksie. So kruip jy maar weg in jou kamer. En eet flentertjies op ‘n slag. Omdat ‘n toe deur nog niemand gekeer het nie, luister jy met die grootste inspanning na elke geluid. As ‘n vloerplank kraak verdwyn alle bewyse onder matrasse en bo-op kaste en in broeksakke. Na ‘n ruk begin jy meer waaghalsig wees. Tot iemand die dag jou deur oopruk en jou halflyf in ‘n donker hoek in jou kas aantref. Wat maak jy? Ek pak my kas reg, sou die verkeerde ding wees om te sê. Dis te vergesog. Bly net kalm en seg liewer ek soek skoon sokkies. Dit kan hul tydelik flous.
As iemand die deur oopmaak en jou met enigiets in jou kieste betrap wat groter as ‘n gemiddelde kougom sou wees, nou ja, dan kan jy begin lieg. Maar hulle sal weet, en ongeag wat jy gaan sê jou daad sal onvergeefbaar wees, en jou vriendekring ‘n knou kry. Jy kan netsowel bieg en jou kosbare met die enkeling deel. Dis immers in sy eie voordeel om ook stil te bly.
As jy in ‘n verhouding is, móét jy deel en daardie persoon deel van die komplot maak. Behalwe as jy daardie vrotterige asem andersins kan verduidelik.
Al is daar baie lesse te leer, moet iets wat so ‘n ondergrondse gekolk afgee euwel wees. Vreemd, veral as jy in ag neem dat waar die boertjies saamtrek, hou elke slaghuis ‘n magdom biltong aan.

(Klets 2003)

Monday, June 09, 2003

Sal die een wat laaste die gallery verlaat asseblief die ligte afsit

Sodra ek by ‘n kunsgallery instap, gebeur iets met my. Ek raak oombliklik lam en lighoofdig. Bleek en onstabiel. My koors skiet die hoogte in. Ek wonder of mense kan sien hoe siek ek is en soek rond vir simpatie. Mense staar meestal ongesteurd intens voort na die kuns. Hulle wonder seker, soos ek, hoe lank nog?
Hoe lank nog voor ek kan huistoe gaan en sê ja, ek was daar, maar ek’s nou OK.

Dis nie dat ek nie kuns kan waardeer nie. Ek het ook al op my dag Klimt en Warhol prente teen my muur gehad. Selfs Picasso (of was dit Matisse?). Ek kan na ‘n program oor kuns op TV kyk, selfs ‘n boek daaroor lees. Wel… deurblaai. As dit prentjies inhet.

Maar as ek byvoorbeeld ‘n dag in Parys gaan spandeer, is die Louvre nie my eerste stop nie. Toevallig was die museum wel op my pad, en na ‘n groot gestoei deur omtrent 45 Japanese met hul arsenaal kameras het ek die Mona Lisa gesien. Ook net genoeg om gegrief te wonder of dit werklik dít is?

Ek was ook al in die massiewe National Gallery. En nie net om weg te kom van die kamakazi-duiwe op Trafalgar Square nie. Ek en twee maters wou Die Sonneblomme sien. Estelle, kunskenner en informasieplakkerleser van formaat, moes die voortou neem. Sy was ook die selfaangestelde houer van die heilige gallerykaart.
Na sowat 20 minute het ek en Yolanda koorsig op die sagte besigtigingsbankies lê en giggel. Ek het gewonder of ons simptome aansteeklik was en wat my laaste onsterflike woorde sou wees. My arme moeder sou haarself verkwalik omdat sy altyd volhou mens moet als beproef.
Daar was egter geen rus. Vir die volgende paar uur moes ons, onder opdrag, van die een gallery-uithoek na die ander draf. Die vleuel met die sonneblomme sou 5pm oopmaak. Intussen moes ons voor 4pm Da Vinci en Raphael sien. Daarna sou ons ‘n uur vir Michaelangelo hê. Ek en Yolanda was so swak, ons kon nie die absurde uitleg en logika bevraagteken nie.
En toe, skielik, nadat Estelle ons ewige stilswye laat sweer het, bely sy verleë sy’t die jaartalle op die inligtingpamflet verwar met openingstye. Die vleuel met die sonneblomme is dus nie slegs van 5pm tot 7pm oop nie, dit bevat bloot kuns van 1700 tot 1900.
Ons het vir ‘n respektabele aantal sekondes by die sonneblomme getalm, gegrief gewonder of dit werklik dít is en gehoop daar’s iewers ‘n Happy Hour.

Groot kuns stel dikwels teleur. En moderne kuns?

In Londen begin die simpel seisoen met die Turner-uitstalling in die Tate Britain. Dis ‘n
kompetisie met ‘n £20,000 prysgeld vir kunstenaars onder 50 wat die afgelope jaar ‘n indrukwekkende uitstalling gehou het. Dit word beskou as een van die mees gesogte pryse vir visuele kunste. Verlede jaar se wenner, Martin Creed, se uitstalling het onder meer bestaan uit ‘n leë kamer met ‘n lig wat aan en af gaan. Hy was natuurlik nooit in ‘n koshuis waar jy vir die soort ding gelooi is nie. Die man het bekend geword deur papier in bondeltjies te frommel. En om stukkies wondergom op gallerymure te plak. Creed was nie ‘n gewilde wenner nie. Een vrou het selfs eiers teen die vertrek se mure gaan gooi. Sy’t dit dalk gedoen namens almal wat nie die potensiaal in hul frommels gesien het nie.

Die finaliste se uitstallings vanjaar sluit onder meer in deurlopende kommentaar oor ‘n bloufilm, ‘n maagdraaier-voëlvlug geneem deur ‘n kamera gemonteer op ‘n afstandbeheer helikopter en ‘n installasie van Plexiglas, aluminium en hout (lees: ‘n interessante plafon wat jy sal sien as jou oë eventueel boontoe rol). My gunsteling uitstalling sluit Die Denker, ‘n rekenaar, in. Die kunstenaar voer ‘n klomp data in die rekenaar. Dié stel dan blindelings ‘n kombinasie saam as opdrag vir die kunstenaar. Byvoorbeeld, gaan heen en verf 366 broodborde.

Die enkele uitsondering ten spyt, was ek taamlik broos toe ek die gallery verlaat.
Is dit werklik dít? het ek bekommerd gewonder. Is dit die toekoms van kuns? Selfs die Kultuur-minister, Kim Howells, wat kuns studeer het, het op die kennisgewingbord by die uitstalling gal gebraak: "It is cold, mechanical, conceptual bullshit.” Wie’s ek om te stry.

Dalk het mense verward geraak tussen wat kuns is en wat ‘n kuns is. Dis nie kuns om ‘n lig aan en af te sit nie. Maar dis dalk ‘n kuns om jou lag te hou as jy sien hoe mense daarvoor val.

(Klets 2003)

Sunday, June 08, 2003

Dissie vir sissies nie

'Is dit nie gevaarlik nie?' vra mense gewoonlik as hul hoor jy doen sekuriteit. Dis nou as hulle ophou lag het. 'Ja', sê jy, 'jy kan jou dood verveel'.
Maar soms tart jy eerder die voorsienigheid as jou landlord.

Suid-Afrikaners, spesifiek diegene wat in jou opvoeding belê het, toon gewoonlik reaksies van skok en ontkenning as hul hoor waarmee jy jou langlewe-brood verdien. Suid-Afrikaners in Londen is meer simpatiek. Dié uniform hang om 'n geraamte in baie se kas.

Almal wat sekuriteit doen het 'n goeie verskoning. Niemand stel belang in jou redes nie, maar jy wil dit nogtans regverdig. Mens kan nie bekostig om te trots te wees nie. As jy kon, sou jy tog eerder heeldag Kubaanse sigare rook. Die beroep is ondankbaar en vernederend. Mense kyk na jou soos hulle maar altyd na die werkersklas kyk. Langs die neus af. Of glad nie.

Soggens vroeg en saans laat sien jy baie grys broeke en wit hemde op die treine. Jy knik maar in erkenning met mekaar se lot. Dis nou as moegheid jou nie oorval en jy myle anderkant jou bestemming, met 'n kwylkol op jou bors, by die see wakker skrik nie.

As sekuriteitswagte hulle op 'n partytjie in dieselfde geselskap bevind, kompeteer hul noodwendig oor wie dit nou eintlik die ergste het:
'Ek staan heeldag op dieselfde plek! Elke dag! Vir sewentien maande al!'
'Aaaag, dis niks!' sal iemand snork. 'Ek moet 12 uur 'n dag ses geboue met 43 verdiepings elk patrolleer … met ingroei-toonnaels.'
'Jy's gelukkig!' kom die troef: 'Ek deel 'n piepklein kantoortjie met 'n tipiese geezer.' En asof dit nie genoeg is nie… 'Hy bad glo een keer in ses maande. Maar ek dink hy oordryf.'
'Oooooo' sê almal grootoog en effens aangedaan, drink hul biere klaar en gaan slaap op die hoogtepunt van die gefuif. Môreoggend moet hulle weer vyfuur opstaan.

Jy voel so skuldig dat jy maar nog 'n Stella drink en almal se halwes leegmaak. Jy's régtig gelukkig en dit kan mos nie! Jou kollegas is nie stereotiep nie. Hulle dra net een ring aan elke hand, is intelligent en snaaks. Walglik soms, maar die dae raak lank en daar kom baie boeings oor.
Jy kyk elke aand wêreldklas konserte na werk. Van Buddy Guy tot die Royal Philharmonic Orchestra. Jy's nooit moeg of verveeld nie. Joanna Lumley sal onverwags langs jou stop en sê 'Hallo, ek's Joanna Lumley.' (Jy sal agterna nie onthou of sy ooit fabulous darling gesê het nie. Maar dit was.) Jy het die Koningin van té naby gesien, teësinnig met Prins Charles skouers geskuur, Emma Thompson deur die gange begelei, en met 'n (baie) oud-Eerste Minister oor die weer gesels.

Daar kom hordes gemoedelike toeriste na jou gebou wat dink jy's 'n rigtingwysers vir die toilet, die stasie, ditse gallery en datse brug. Jy ontmoet talle van die energieke en eksentrieke pensioenarisse wat Londen soveel karakter gee.
Soos Matthew wat heeldag in die grondvloer restaurant sit, mense kyk en wag vir 'n vriend wat nooit opdaag nie. 'Moenie van die grondboontjies eet nie,' waarsku hy 'n oorgewig Amerikaanse toeris ongevraagd. 'Dit gaan jou net nog vetter maak!'
Oppad om vir nog 'n konsert te bespreek, beduie hy onbeskaamd 'Daai man is drek.'
Ekskuus?
'Daai man is 'n direkteur.'
Um, hoe dan so?' vra jy besorgd.
'Hy sê ek mag nie heeldag in sy restaurant sit nie! Waarvoor het ek miskien geveg?'
Dan sal hy weer van sy vyf jaar in die RAF vertel. Hoe sy been gewond en sy oog uitgeskiet is. En terloops noem dat jy heelwat beter sou lyk as jy net 'n slag ordentlike klere sou aantrek.
Daar's die 80-jarige Amerikaner wat vir jou Sarie Marais sing, soos hy dit jare gelede in Londen gehoor het. En die groepie wat dikwels die eintlike vermaak tydens etensuurkonserte verskaf. Die lywe werk nie meer so lekker saam nie, maar dis pers hare en bont rokke wat doer draai dat jy net (ekstra ekstra groot) onderklere sien.

Jy staan soggens langs 'n massiewe borsbeeld van Madiba (met die aanhaling 'The struggle is my life') en besin. Jy tuur saam met hom na die manjifieke wiel wat voor julle in die pienk oggendlug troon, regs oor die Teems na Big Ben en Westminster, en links na Waterloo-stasie waaruit die kwaai korporatiewes begin stroom. Almal wil 'n huisie by die see hê. Almal hoop die struggle is verby… Ongetwyfeld. Maar jy het dit glad nie te sleg nie, en dit sal wys wees as jy by partytjies liewer stilbly as om, in stryd met tradisie, nie oor die trauma van die beroep te kompeteer nie. Jý is immers net gelukkig.

(Klets 2003)

Thursday, April 17, 2003

Lysies

‘n Ruk gelede was daar ‘n rubriek in die SA Times (UK) waarin die skrywer ‘n aantal goed lys wat Londen vir haar spesiaal maak. Die lysie het my so gegrief, ek het verplig gevoel om dit met almal te deel.

Kan jy dit glo? seg ek vir my een vriend.
Nee, sê hy en probeer my ontsteltenis ewenaar, hoe kon sy vergeet om na my indrukwekkende bates te verwys?
Uhm, ja-wel, sê ek. Maar die punt is, sy waag dit om te sê as haar vriende by die huis haar leedvermakerig vertel van etes in die wynlande en pieknieks op die strand, sy (verbeel jou!) dit sou kon troef met 'n lysie van kamtige Londen-lekkertes. Die sluit o.m. die salige gevoel van 'n pond in jou hand in. Of ‘n cappuccino van Prêt a Manger. Of Harvey & Nichols se vertoonvensters vol verrassings.
Wie dink sy fool sy? braak ek gal. Ons was mos almal daar. Daar is nét móói níks op hierdie aarde wat beter as dit is nie!
Wat presies het hierdie tirade ontlok? vra my vriend versigtig (want hy ken sy plek).
Ek wonder met 'n dodelike uitdrukking op my gesig, hoekom ons hoegenaamd vriende is. Maar ek dink tog vir 'n sekond daaroor - nee, dit is nie PMS nie, en ja, ek verlang 'n bietjie huis toe.
Jy verstaan nie! probeer ek met hernude aggressie. AS jy hoegenaamd kan vergelyk, is daar dan niks beter in Londen nie?
Goeie vraag, dag ek. Ook maar goed ek het dit eerste gevra, want as dit aan my gerig was, sou dit my bietjie van stryk gebring het.
Ek meen, daar moet tog beter goed wees, want as daardie 'n tipiese lys is, wat soek ek hier? Ek kan mos nie hier bly vir daardie oppervlakkige redes nie? Sy noem wel dat almal hul eie lysies moet maak, maar hare het my ontstel, vermoed ek, omdat ek doodbang was ek kan nie 'n beter een saamstel nie. En dan hang daar 'n groot vraagteken oor my lewe hier.

Ek stem saam met haar dat 'n mens as jy daar op vakansie is, snaaks genoeg, terug verlang na die plek. Dis dan ook die rede hoekom sy haar lysie opgestel het - sy kon nie verstaan hoekom sy Londen so mis nie. Ek het self so uitgesien na my vakansie by die huis, ek’t vermoed ek sou glad nie weer wil terugkom nie. Tog, na ‘n paar weke daar, begin jy wel goed mis. Klein dingetjies en roetines wat deel van jou lewe geword het. En jou lewe is, hetsy tydelik of nie, hier. En jy mis dit.

Londen is aaklig aan die begin veral as jy alleen hier is, en boonop werkloos. Die konstante gril en stres is uitstekende materiaal vir erge trauma. Dis nie dat dit op ‘n dag skielik beter raak nie. ‘n Mens raak net gewoond daaraan. Die groen snot en slymballe lê nog steeds die wêreld vol, elke tweede mense loop jou nog steeds uit die grond uit, die lug is nog steeds grys, mense glimlag nog steeds net twee keer ‘n jaar as die son uitkom … maar dit is soos dit is en jy aanvaar dit so. Die oomblik wat jy ophou baklei en ophou vergelyk en ophou trugwens, het jy reeds wortel geskiet. Jou huis het saam met jou grense geskuif.

Party mense hier se gesprekke is besmet met Ja, maar by die huis….
Daardie alewige absurde kompetisie. Dis tog uiters dwaas om te vergelyk. Dit geld nie net vir die wisselkoers nie - alles is anders. Maar dis in ons natuur, want ons voel ons moet heeltyd die redes waarom ons hier is regverdig. ‘n Mens sukkel soms om te verduidelik wat jou hier hou. Baie is amper verskonend daaroor, maar jy wil konkrete redes gee, want jy voel (of eerder, word laat voel) soos 'n verraaier.

Ek weier om ‘n lysie met London-pluspunte te maak. Ek skaar my net eerder by Samuel Johnson wat meen When a man is tired of London, he is tired of life, as by die snuiter wat eendag gese het Aaaag nee wat, hierie plek het niks wat ekkie by die huis kan kry nie. Daar’s ‘ammie ‘n plek soos Shooters hier nie.

Maar gestel iemand druk nou ‘n weapon of mass destruction teen my kop en seg Wys My Jou Lys! dan sal ek baie vinnig ‘n boerseun se naam op die naaste stukkie papier skryf.

(Klets 2003)

Friday, March 21, 2003

Laat hulle koek eet

Die wêreld is bietjie vreemd, sê hulle, as die beste rapper wit is en die beste gholfspeler swart. As Duitsland traag is om oorlog te maak en die Franse die Britte beskuldig van arrogansie.

Min Britte regverdig die stelling dalk soveel as die Koningin. Eers spandeer sy derduisende belastingbetalersponde op ’n totaal onnodige “panic room” in die paleis; nou is daar gerugte dat sy die oorlog teen Irak in Skotland wil deurbring. Dis soos om ’n hamburger voor Rik “Groter as die lewe self” Waller neer te sit! As die Skotte van haar Hoogheid praat, is hul sinne besmet met ’n ander woord vir hond-met-tepels. Hulle sal haar verskeur.

Mens moet ook wonder hoekom sy (of Charles, wat Nr 10 gereeld met briefies bombardeer) nog geen opinie oor die oorlog gelug het nie. Ja, sy praat soldate moed in en korrespondeer met klein dogtertjies sodat die volgende generasie ook haar foto bo die kaggel kan hang. Ja, sy het as staatshoof eintlik net ’n simboliese rol. Maar volgens die koninklike webblad is haar hoofrol as ’n fokus van nasionale eenheid. En natuurlik mag sy iets sê.

Dalk hou sy net té veel van Bush. Sy’s immers met iemand van sy presiese intellektuele kaliber getroud. Verder is Bush is ook nie regtig verkies nie, maar beide glo dat hulle en hul makkers die uitverkorenes van hul onderskeie koninkryke is. In Bush se geval (want aardrykskunde is nie sy sterk punt nie) sommer van die wêreld.

Of dalk meen sy die oorlog hou die potensiaal vir die grootste oomblik van haar termyn in. Na ’n enkele besoek aan die East End tydens die Blitz het die volk immers geglo haar moeder kon op water loop.

Maar genoeg oor haar.

Ék voel uiters gegrief dat ons almal so in hierdie oorlog geboelie word, en dit net omdat Alfred E Neuman toe tog president geword het. Dom mense wat dink hulle is slim — het ’n wyse klasdroster eendag gesê — is ’n baie gevaarlike groep mense.

Blair is nog ordentlik genoeg om te lyk of hy empatie met ander se oortuigings het. Dis asof hy sê: Jy vra waarom moet jy groente eet? Dis ’n baie goeie vraag en een waaroor ek … ons … al baie gepraat het. Jy hou nie van groente nie. Ek weet! Glo my, ek weet. Maar, maar … jy moet verstaan. Dis góéd vir jou. Dit is!

Bush is egter soos ’n bedorwe brok wie se speletjie jy volgens sy reëls moet speel as jy in die somer na sy huis met die swembad genooi wil word. Sy reëls verander heeltyd op grond van sy prestasie. Party sal later langlip skree: “DUS! ON!REG!VER!DIG!” Maar hy hoor nie. Die res sê verraaierig: Ag, dis net ’n speletjie. Maar hulle weet dit is nie.

As jy in een mens se oë kyk wie se lewe vir ewig deur oorlog geraak is, sukkel jy om redes te kry wat sulke drastiese aksie regverdig.

Soos Matthew. Ek het op ’n stadium by die Royal Festival Hall gewerk wat tydens die 1951 Festival of Britain as ’n na-oorlogse “Tonic to the Nation” opgerig is. Onder in die koffiewinkel naby die kaartjieskantoor het Matthew heeldag, elke dag gewag vir ’n vriend wat nooit opgedaag het nie. Elke uur of twee het hy nog geld gaan trek, nog ’n kaartjie bespreek. Saans het sy jong Chinese vrou by hom aangesluit. En die volgende dag was hy weer daar.

“Daai man is drek,” beduie hy.

“Ekskuus?” sê ek, versigtig om enigiets te beaam voor my salaris inbetaal is.

“Ek sê daai man is ’n direkteur. Hy sê ek mag nie heeldag in die koffiewinkel sit nie. Waarvoor het ons miskien geveg?”

Of: “Hoor wat speel hulle daar,” sal hy kwaad tydens een van die gratis middaguurkonserte sê.

“Jazz?”

“Ja, Jazz! Hulle moet klassieke musiek speel! Waarvoor dink jy het ons geveg!”

En dan vertel hy weer van sy reargunner-dae en wys hy weer sy littekens.

Hy behoort steeds aan ’n reargunner-vereniging. “Maar,” sê hy afwesig, “baie van hulle is dood. Die meeste van hulle is regtig dood … Ek gaan gou kyk wat daar buite aangaan.”

Hy sal van ’n wonderlike loopbaan vertel van meer as ’n dekade in die Ooste en daarna in Amerika. Dan onthou hy weer “daardie vyf jaar … “ En iets skuif oor sy gesig wat jou koue rillings gee.

Daar’s ook Omar, ’n Bosniër, wat vir sewe weke Londen toe sou kom om Engels te leer. Teen die tyd wat hy moes huis toe gaan, was daar oorlog en moes hy politieke asiel verkry. Hy’t vir ’n jaar geen kontak met sy familie gehad nie. Na sewe jaar het hy skaars sy tingerige ouers herken. Hulle het alles verloor, maar ten minste was hul enigste kind veilig elders. Nie, soos baie van sy klasmaats, in ’n begraafplaas in Sarajevo nie.

“Hulle maak elke jaar ’n film van die oorlog sodat niemand vergeet nie,” sê hy intens. “Niemand mag vergeet nie.”

Gestel die oorlog tref die Eiland ...

Ek kan my nie uitlaat oor “haglike” oorlogsomstandighede nie, maar ek’s bevrees as ek in ’n klein vertrek saam met ’n klomp Heinz Baked Beans-eters vasgekeer gaan wees, gaan dit nie mooi wees nie. Ek het vinnig deur die koskaste van ons deelhuis gekyk en gelukkig is daar net een geblikte sjokolade-sponskoek.

Ons gaar nie kos op nie en ons koop nie gasmaskers nie. Maar nie omdat ons dit probeer ignoreer nie. Om die waarheid te sê, nog voor die WB-finaal (beter bekend as die krieket-&*%$£$), kyk almal al 24 uur ’n dag Big Brother-staail oorlog. Ons sit vasgenael voor hierdie ultimate realiteit-show deur die grootste jackass van almal.

Ons kan nie meer die oorlog keer nie. Ons kan net aanpas as die omstandighede dit vereis. Soos my Kanadese kollega met haar whatif-paranoias. Een oomblik kondig sy beslis aan sy gaan ophou rook want sy’t keelseer; 45 minute later gaan koop sy sigarette, want “I’m dying of oesophagus cancer anyway.”

Ns: Wil iemand nie asseblief vir Bush ’n Playstation koop vir Kersfees nie?

(Litnet 2003)

Die Prins, ’n paar Bacardi Breezers en ’n nat hond

As Suid-Afrikaners van die Engelse (en spesifiek Londenaars) praat, is dit nooit baie vleiend nie. Hierdie is immers ’n nasie wat kweel “Lekker lekker barbie woohoo” en dan binne staan en kyk hoe ’n enkele Suid-Afrikaner teen ’n poolwind stoei om klam charcoal aan die brand te kry. Maar my moeder seg altyd, as jy niks goeds oor iemand te sê het nie, bly liewer stil.

Stilbly is egter ook nie ’n opsie nie. So na twaalf en ’n half minute se kwaliteit-dinkwerk moet ek erken dat Britte darem drie bewonderenswaardige eienskappe het. Boaan die lys is hulle geweldige kapasiteit vir tee. Die tweede is hulle ongeëwenaarde gawe om, behalwe tydens voetbalwedstryde, hoegenaamd geen emosie te toon nie; en die derde is hulle absolute blinde geloof in hul eie vermoëns.

Die koninklikes verskaf oudergewoonte ’n paar ooglopende voorbeelde, maar ek sal volstaan by prins Charles. Hy glo hy’s die groot filosoof, kunstenaar, sportman en Don Juan van sy generasie. Omdat hy met bome gesels (die ooreenkoms met sommige van sy familielede kan enigeen ontsenu), reken hy hy’s die grootste natuurman sedert Rolf Harris kangaroes nageboots het. Hy maak gereeld onsamehangende filosofiese uitsprake waaroor sommige mense oooeee en aaah, en omdat hy niks minder verwag nie, moedig dit hom net verder aan. Dis jammer, veral omdat hy eintlik ’n ondergemiddelde skepsel is. Sy universiteitspunte is immers beskryf as iets wat slegs die “terminally lazy or the very stupid indeed” kry. (Myne ook, terloops, maar ék dink nie ek’s die volgende Laurens van der Post nie.) Die man wat moet koning word, het ook al die wens uitgespreek om as ’n sanitêre produk gereïnkarneer te word, en glo gebieg dat hy soms wonder “if two thirds of the globe is covered in red carpet”. Kommerwekkend. Veral omdat daar agter sy peinsende uiterlike geen realistiese waddehelnou-selfbeeld skuil nie. O, nee. Hierdie man se grootste verleentheid is dat hy daagliks sy pêrels voor swyne soos Tony Blair moet gooi.

En dan die plebs. Omdat almal se Bacardi Breezer-geïnspireerde vriende elke Donderdagaand hulle karaoke-pogings encore, glo 97 persent van die bevolking hulle kan sing. Iedereen dink hy’s ’n Pop Idol. Mense het ’n obsessie om op realiteitsprogramme te wees, want almal dink hulle het ’n persoonlikheid wat hulle eenvoudig met die wêreld moet deel. Dis ook hoekom groepe soos S Club 7 dit kon regkry om vir jare sonder skaamte ’n hoëprofiel-bestaan te voer.

Kyk ook byvoorbeeld na die volgende onvergeetlike lirieke van die Spice Girls:

La la la la la la la la la
La la la la la la la
La la la la la la la la la
La la la la la la la.

Mens wil jou verbeel dat terwyl hulle “Spice up your life” geskryf het, iemand sou voorstel: “Hie hie, kom ons sing net la la la vir, like, ewig en kyk of mense daarvoor val.” En hoe hulle sou dink dis histeries. Maar nee, hulle glo opreg dis lirieke wat iemand se lewe gaan raak.

En dit het! Na alle waarskynlikheid is die Spice Girls nie uitmekaar oor hulle gedink het die grap gaan nou te ver nie, maar eerder omdat elkeen onderskeidelik gevoel het hulle kan nie langer hul besonderse talente langer laat onderdruk deur die ander wat dalk goed is, maar nie geniaal nie.

Dit bring my by die Olimpiese Spele. Toe Suid-Afrika destyds die Spele wou aanbied, het derduisende Suid-Afrikaners begin verskoning maak. (Behalwe natuurlik daardie beminde spotprent-bergie met sy “Athens se ma”-plakkaat). Die skade! Die skande! Vervoer, vuil, sê nou dit reën …

Die Britte, daarenteen, is vol selfvertroue vir hul bod om die Olimpiese Stadion in Hackney te bou. En ek het nog bittermin mense hoor sê “Jy’s nie ernstig nie.” Dis seker mooi, die ideaal van oplewing in ’n area wat slegter lyk en meer stink as ’n nat hond. Maar dis regtig ’n vergesogte idee. Daar’s min treine en baie moorde. Daar bly soveel nasionaliteite, jy sal sukkel om iemand te kry wat in Engels kan verduidelik waar die derde uitdunronde van die gesinchroniseerde swem plaasvind. Hackney het “karakter”, seg hulle, maar dis net ’n ander woord vir “lewensgevaarlik en vol mense wat heeldag met hul imaginary friends baklei”.

Tog, hierdie ingesteldheid van die Engelse is iets wat ons nie het nie. As ons vir, seg maar, ’n sekretariële pos aansoek doen, sal ons nog sê ja, ek tik 75 woorde ’n minuut. En dan, al probeer keer ons hoe, daar glip altyd nog ’n “maar” uit. Maar … dit … was … lank terug. Jammer om te hoor, sê die onderhoudvoerder, en gee die werk vir ’n blasé Brit wat 14 woorde ’n minuut tik, met 100 persent spelfoute.

En dit bring my by die eintlike punt van die storie, liewe leser: dít is die rede waarom duisende jong Suid-Afrikaners in Londen sekuriteitswagte is. (Dink ek.)

(Litnet - 2003)

Friday, February 21, 2003

Waar is al die Engelse rose heen?

Ek wil nou nie snaaks of oneerbiedig wees nie, soos my vriendin Jomarié sou sê, maar as Koos Kombuis so baie hou van vroue wat na knoffel en Tabasco ruik, sou ek die egpaar Kombuis aanraai om met ompaaie verby Londen te hou. Dis jammer, want dit sou ’n groot okkasie wees as Koos weer ’n slag hierlangs kon kom. Maar, helaas, ’n besoek aan dié stad, waar mense knoffel soos peanuts eet, sou ’n té geweldige beproewing vir sy huwelik wees. Veral, seg maar, in die moeilike silwerbruilofjare as jong Simon en Mia hul ouers nooi om ’n week of wat in ’n deelhuis te kom bly (’n verhoudingstoets op sigself).

In Londen kry jy geen subtiele gisteraand-se-pizza-knoffelwalmpies nie. O, nee. Hier kan dit ’n paniekaanval van die reuksintuie aanbring. Al protesteer mond hoe, hy moet maar oop om ekstra lug te skep, want neus — met 30 000 sweetdruppels op — kry baie swaar. Op ’n stampvol trein, diep onder die grond, kan jy nie wegkom nie. Hierdie tube-terroriste plant hulleself soos die bomme in Minesweeper. Op ’n afstand sou jy nooit kon raai waar die gevaar skuil nie, maar sodra jy jou staan of sit kry, besef jy jy is omsingel. Hou maar ’n roombotteltjie voor jou neus en druk so nou en dan sy asem uit. Jy sal dit maak. Maar wat van iemand soos Koos wat van dié tipe van ding hou? Wee miskien diegene deur wie die struikelblokke kom, maar beskou hierdie as ’n waarskuwing, en hou Koos weg uit Londen.

Wel, ten minste uit die East End. Want dis hier waar jy laat op ’n Saterdagoggend wakkerskrik met ’n soet irritasie in die neus. As jy duik om jou venster toe te maak, is dit klaar te laat. Die reuk het ingetrek en sy lê gekry. Dis presies soos bobotie, daardie gewilde spyskaartkeuse, wat teen die mure en aan die dekens en tussen die vloerplanke van elke skoolkoshuis lê. Dit wag op die trappe na skool soos ’n bedreiging van ’n goeie dag wat nog baie tyd het om sleg te raak. Skemertyd trek dit by die vensters uit en steur jou soos ’n slegte asem voor dit op die gruis gaan lê en jy jou bord daarmee moet inkleur en maak of jy dit geëet het. Só ruik die kerries van Oos-Londen. Maar dit smaak baie beter. Om die waarheid te sê, die Engelse was so jaloers omdat Yorkshire pudding en Spotted Dick die mees eksotiese geregte op hul spyskaarte was, dat hulle — sedert die eerste pondteken op ’n Indiese spyskaart verskyn het — maak of hulle kerrie uitgedink het. Die pienk knieë kan miskien nie ’n vuur pak of ’n band omruil nie, maar hulle skrik nie sommer vir ’n warm vindaloo nie. Kruie en speserye word hier lankal nie meer in “huisies” en “knypies” gemeet nie.

Maar om terug te kom by Koos. Hy hou ook nie van vroue wat ure in badkamers spandeer nie. In Londen is daar vrouens wat vermoedelik nog nooit die binnekant van een gesien het nie. En dan is daar die wat dalk voorheen ure in badkamers spandeer het, maar nie meer sedert daar ’n nuwe sosiale gedrag geduld word nie. Almal frons daaroor, maar dis soos om vir iemand te sê hou op om jou rowe af te trek — jy hoop maar dis iets wat mense weet of behoort te weet. Oor ’n paar maande krap ’n klomp mense aan hulle rowe en dan’s dit te laat. Dan is dit aanvaarbaar. So is dit nou met vrouens wat hul grimering op die tube aansit. Ek het in Suid-Afrika ook gesien hoe mense oogpotlode in die vinnige baan gebruik, maar dít is ’n kuns. Om reg oorkant iemand te sit wat vir 15 minute gesig-gimnastiek doen, is bloot irriterend, veral as hulle niks beter lyk daarna nie. En dis nie net ’n vinnige lipstick voor iemand kyk nie. Dis potlode en borseltjies en buisies en salfies en tweezers en wax strips (regtig!) — en hulle bêre als in iets wat soos ’n Swiss Army knife vir grimering lyk.

Vrouens hier dra ook nie noodwendig groot handsakke om alles in te pas nie. As Posh Spice ’n koevertgrootte-handsak dra, sal hulle ook. (Maar sy’t lyfwagte met baie baadjiesakke.) Die res sleep plastieksakke van hul gunsteling ontwerperswinkels saam. (Baie ou tannies loop byvoorbeeld met uitgebleikte Harrods-sakke rond.) Die sakke is vir hulle kantoorskoene, sien, want almal dra wit tekkies by hul pakkies sodat hulle spitstye aan die resies vir Die Enigste Oop Sitplek kan deelneem.

Ek oordryf eintlik. Engelse meisies is nie regtig so onweerstaanbaar nie. Ten spyte van hul knoffelvoordeel, en die feit dat hulle minder ure as ons in ’n badkamer spandeer, en dat hulle handsakke nog kleiner is, kan meisies in Londen immers in slegs twee groepe verdeel word: die posh ingeteeldes (ook bekend as die “chinless wonders”) wat na hulself as “one” verwys (soos die Koningin); en meisies met oorbelle waardeur opgeskote Maltesers kan spring en platgelekte kuiwe, wat na elke sin “innit” en “know wo’ I mean?” sê (soos David Beckham).

Kannetjie kan maar ontspan.

(Litnet 2003)