Wednesday, December 23, 2009

Son sak in die Weste

Ons is tans geweldig besig by die werk. Daar's nie 'n ledige oomblik nie, en beslis geen tyd vir speel nie. (Of is dit andersom?)

Ek kon gelukkig darem 'n tydjie afknyp om kerskaartjies vir my mater Erum se besigheid te maak.

Die boonste foto is vroeër vanjaar in Morden geneem, en die tweede een in Primrose Hill, nadat ons werk die kantoor vir die dag toegemaak het.

Christmas card for kudus-copy.com




Dit was groot pret, maar nogals 'n stryd om foto's te neem, want die die laptop wat ek gekry het om van die huis af te werk het nie 'n strap gehad nie, so ek moes dit heeltyd in die sneeu neersit. Dit het gelukkig die uitstappie oorleef.

Friday, December 11, 2009

NuL

Ek was destyds nogals opgewonde toe ek NuL ontdek het. Net nadat ek hierdie storie geskryf het het Hanlie, 'n oud klasmaat, my gemail:

molo sisi,
lekker gelees aan die blog, en sommer weer opgehook met my vriende van nul - thanks vir die wenk, het kommune gedeel in pta en touch verloor

Cool toeval :-)
Elk geval, toe't ek weer 'n bietjie van NuL vergeet. Maar ek sien nou hulle het sedertdien 'n paar nuwe songs vrygestel (wat jy alles gratis kan download).

Saturday, November 28, 2009

'n Fotojoernalistiek-erige workshop

Ed Terakopian workshop

Ek het Ed Terakopian se blog begin volg nadat ek vroeer vanjaar 'n foto van hom by 'n persfotografie-uitstalling gesien. Toe ek sien hy bied 'n workshop vir 15 pond aan, het ek dadelik 'n plek bespreek. Dit was die eerste workshop wat hy aangebied het, en die eerste een wat ek bygewoon het, so niemand het regtig geweet wat om te verwag nie. Sy volgende een sal waarskynlik meer gefokus wees, maar ook aansienlik duurder.
Dit was baie interessant om te hoor hoe hy werk en so, maar ek kan nie juis se ek het waardevolle nuwe tegnieke geleer nie. (O, behalwe die volgende: moenie trainspotter grappies maak waar 'n groot groep fotograwe bymekaarkom nie!)
Dis natuurlik altyd handig om mense in die industrie te ontmoet (veral sulkes soos hy, wat gretig is om hulle kennis te deel), en om bietjie uit jou gemaksone te beweeg. Ook om weereens te besef dat mense met goeie tegniese kennis nie noodwendig goeie fotograwe is nie, of andersom.
Tussen 1 en 3 moes ons rondloop en 'n paar foto's neem. Ek was heeltyd onder die indruk die tema was 'street photography', maar blykbaar het ek dit gedroom, en was daar geen tema nie. Ons kon eintlik afneem wat ons wou. Dit sou geen verskil gemaak het aan wat ek afgeneem het nie, maar dit sou dalk beter wees (uit meeste van die ander kursus-gangers se oogpunt) as daar wel 'n tema was. Ek sukkel oor die algemeen met opdragte wat te vaag is. (Wat ook verduidelik hoekom my bloggery so 'n gesukkel is.)
Ek en Johnny het eers in Soho ingevaar, en uiteindelik by die South Bank gaan draai. Ons moes toe almal een foto kies wat dan bespreek sou word. Op die ou end was Johnny se foto onder die top vyf. Maar ek dink hy's van die eerste prys beroof!

Tuesday, November 10, 2009

Dit kon erger wees

As jy weer deur 'n dal van doodskaduwee gaan, hier's iets om jou op te beur.

(Dit mag natuurlik ook die teenoorgestelde uitwerking hê. Indien wel, jammer!)

Sunday, November 08, 2009

Lekker kommin. (Met die klem op lekker.)

Die Joost- en Minki-tipe stories laat my koud. Ek gee nie om oor enigiemand se gomsnuif-gewoontes nie. Maar ek moet bieg, as ek sien Rapport het 'n storie oor een van die kamtige "glans-" "persoonlikhede" se doen en late, scroll ek reg deur die storie sodat ek die kommentaar kan lees wat die mense los. Dis uiters vermaaklik. (Dankie, Web 2.0!) Hier's ons volkie se indrukke oor Minki en Constant (nee, ek ook nie):

"Haastige hond verbrand sy mond,ek dink alle mans moet biekie spreuke 31 gaan lees voor hulle trou;constand dis jou eie skuld,ne!!! Want jy was gulsig en het seker net een iets in gedagte gehad haar lyf en sy jou geld, ook maar leke stupid julle bekendes; ek dink mense in die plakkerskampe dink beter as julle."
"Dude, jy moet self maar slegte oordeel he om te trou met daai brein-skenker wannabe bimbo. Sy's nog 'n goeie kandidaat vir 'n McDonalds job. En sy SUCK as n presenter, moerse irriterend."
"Minki is 'n geldwolf, en 'n aansitterige een! Sy praat hoe die Here haar loopbaan seen terwyl sy kaal pronk op manstydskrifte... Minki die Here seen nie vroue om WELLUS in mans wakker te maak nie. Jy is skynheilig, en ek is bly jou maksers val af. Dit is 'n skande dat PASELLA jou as aanbieder aangestel het, en dit is juis daarom waarom ons hele gesin al vir 'n jaar nie meer PASELLA kyk nie. Jy lei jong meisies in die verkeerde rigting deur hul te verwar en hull te laat dink meisies kan maar met die bybel onder die arm en die kaal borste op die tydskrif pronk. SIES Minki, ek het nog nooit van jou gehou nie! Conrad alle sterkte, ek kan glo jy het baie stories oor haar, ek sal elke woord glo."
"Minki het nou vir Joost en Steve verby GESTEEK.!!"
"Minki lyk soos 'n suigstokkie. Verstaan nie waaroor die bohaai gaan nie, sy was nog nooit vir my mooi nie, dit lyk of sy 'n donuts in haar kieste vergader net soos 'n hamster"
"Wys jou maar net...'n mens kan jouself nie laat kaal afneem en dink dit maak jou verhouding sterker nie. Dinge werk eenvoudig net nie so nie...Dankie vir nog 'n paartjie wat die huwelik goedkoop gemaak het,julle kan julle prys saam met Joost en Steve gaan af haal by Brad Pitt en Angalina Jolie. Oi!! Dit is om van naar te word!"
"Julle ken daai gesegde van hoeveel treine al deur Johannesburg stasie was - Dis nou Minkie"
 En so voel ons oor Joost:
"Gaan die Joost stront vir ewig aanhou? Sit dit in die BB koerante ons stel nie belang in wie hy pomp, gepomp het en nog wil pomp nie. Oook nie Amor se ou hartseer k@k nie en hul bybel bol strooi nie. Joost....f...net aan asb!"
"Ek dink daar is n probleem met albei - dalk hoor ons een van die dae hulle is op DRUGS, maar hulle sal dit ook seker ontken!!!!!!!"
Ek's so ontsteld, ek gebruik sommer sewentig uitroeptekens!!!!!!!!!!!!!!!!!!!
"Joost Van Der W en sy siek aanhangers is tiperend van hierdie siek land en sy vrotasem selferkende hoerjaers."
"Joost jy maak my siek.....jy maak my regtig fisies naar....jy verneuk jou vrou en jy verdien wat jou toekom......Hoe kry jy dit reg om Amor so om jou pinkie te draai? Miskien moet dit die inhoud van jou volgende boek wees."
"Hoe kommin om 'n keps binneshuis te dra. Is jy nou op pad om 'n Rapper te word, nadat jy met die Stripper deurmekaar was."
Ha! Dis OK dat hy 'n portret van homself bo sy bed hang (sidder), maar om 'n keps binneshuis te dra is klaarblyklik onvergeeflik.

Vertigo

U2 (2005)
Het in die argiewe gekrap en op 'n paar ou U2 foto's afgekom. Ons kon destyds (2005) nie kaartjies vir die Londen konsert kry nie, toe besluit ons om dit in Dublin te gaan kyk. Ons het vergeet om vroegtydig blyplek te boek en moes 'n halfuur buite die stad, op 'n sopnat veld, kamp. Maar die ontberings was 'n klein prys om te betaal, want die konsert was die beste konsert van ALLE TYE. Croke Park is oor die algemeen 'n aansienlik aangenamer ervaring as Wembley. En, al het ons nie juis baie vroeg opgedaag nie, kon ons steeds heel voor, langs een van die ramps staan. Ons het nie doelbewus aan die linkerkant gaan staan nie, maar ek's bly ons het, want The Edge het heeltyd daar op en af geloop. As ek reg onthou, het ek amper opgegooi van opgewondenheid. (En toe hulle hierdie ou kry om saam met hulle te speel, het ek amper namens hom ook opgegooi van opgewondenheid. Maar hy't gelukkig die groot oomblik beter hanteer as wat ek sou.)
Het die foto's met ons eerste digitale kamera - 'n 4mp Casio - geneem. Die kamera het uiteindelik in 2007 in 'n rivier in Thailand gesneuwel, en toe't ek na 'n SLR opgradeer. Maar die compact was, sonder twyfel, meer pret.

Sunday, October 11, 2009

The best of times

Enigiets is natuurlik moontlik. Maar as 'n mens hier grootgeword het, dink jy nooit dat jy eendag 'n email van die kitaarspeler van een van jou gunsteling bands sal kry nie.
So, vir die enkelinge wat nog nie weet nie - ek het inderdaad onlangs 'n email van die kitaarspeler van een van my gunsteling bands (James) gekry! Check:

dear christine, i was very impressed by your photos on flickr of me with my new white guitar. As you may imagine as its so new i have no good shots of me using it yet.

Would you be so kind as to let me have a copy of the 4 photos on there. If i ever use them for my own purposes i will of course credit you and will never profit from them without consulting you first.

regards

Larry Gott

Nodeloos om te se, ons is nou beste vriende :-)

Gister kry ek nog 'n cool verrassing op die tube.

Net nadat ek in Augustus my Big Chill foto's op Flickr gesit het, het ek hierdie email van Fink se hoofsanger gekry:

...how awesome -it's rare i see live shots that i like but you captured a moment in Black And White of me, and i want it in my life big time...my girl would love it- it's fin in kinda concentration mode...

can i get a copy from you?

i would really love it...

fin

Ek het vir hom die foto (toevallig ook my gunsteling) gestuur, en gesê hy kan dit gebruik waarvoor hy wil - as hy my sal erkenning gee.

Fink, Big Chill Festival

Gister lees ek toevallig The Guide (van die Saterdag Guardian) op die tube, en sien toe dié:



Dis vir professionele fotograwe 'n groot irritasie dat amateurs soos ek gratis foto's uitdeel, want mense raak gewoond daaraan dat hulle alles verniet kan kry en dit maak dit al moeiliker vir pros om hulle pryse te kry. Maar as ek geld gevra het, sou ek nooit hierdie tipe kicks gekry het nie. Elke man vir homself, en so aan. Ek's natuurlik self geirriteerd dat hy toe wel die foto gebruik het sonder om my erkenning daarvoor te gee, maar hulle weet dat ek bewus is daarvan.

En dit alles deur die wonder van Twitter.

Sunday, September 27, 2009

Herfs

Autumn

Herfs is my gunsteling tyd van die jaar. Daar's iets aan die seisoen wat draai wat baie opwindend is. Net jammer dit gaan altyd gepaard met 'n minder opwindende post nasal drip.

Tuesday, July 28, 2009

Budapest

Heroes' Square, Budapest

Die Hősök tere (Heroes' Square) in Pest is bedags baie bedrywig, so dit was (glo ek) 'n aansienlik aangenamer ervaring om dit net na middernag te sien. Behalwe vir 'n paar bergies, was dit net ek, Rudi, Jozsef, Viki en Bolazs wat daar rondgehang het. Die dansers het almal (onder ligte dwang) 'n paar toertjies voor die besienswaardighede gedoen, voordat Bolazs (wat die coolste naam in menseheugenis het) ons na die volgende bar gelei het, waar ons ons vyf-'n-dag in die vorm van kersie- en aarbei Palinkas ingekry het.

Immergroen

Immergroen festival

Ek weet nie of ek die fees of die bohaai daarvoor of daarna op die Internet meer geniet het nie. Ek dink tog die fees wen, maar net oor ek permanent 'n biltong in die een hand en 'n papsak in die ander gehad het.
Dit was eintlik ook soos 'n reunie van die ou Walthamstow crowd (spesifiek die Lorne-denaars), so die musiek was 'n bysaak. Dis ook nie asof ons so uitgehonger is vir boerewors of Afrikaanse musiek dat ons gebroke was toe daar nie chutney of kunstenaars was nie.
Maar dit verander nie die feit dat Immergroen 'n mislukking van epiese proporsies was nie.
Die organiseerder, Cr**g l* R**x ("Sy naam is nou 'n vloekwoord!"), bly seker nog nie lank genoeg in Engeland nie, want anders het hy nou al lankal herhaaldelik Sorry! gese. Dis nou as hy nog kan praat. Want as 'n paar van die mense wat gedreig het om hom te verwurg hom wel bygekom het, is hy nie meer van hierdie wêreld nie.
As die kunstenaars ook maar net soos die res van ons hulle diensplig in Engeland gedoen het, kon hulle ook al Britse paspoorte gehad het, en was dit nie nodig dat die derduisende honderde feesgangers troos in die naaste bottel moes soek om hulself te geniet nie. Martin moes maar aan 'n paar NikNaks suig en met 'n tartrazine kick tevrede wees. (Hy was nie.)

Wednesday, July 08, 2009

Karen en Bill

Karen & Bill


Die blog-koma duur voort. Intussen...

Hier is 'n slideshow van 'n paar van Karen & Bill se troufoto's. Click op HQ, regs onder. (Musiek deur Moby.)

Dit was die tweede troue waar ek fotograaf gespeel het. Stresvol, maar groot pret. Dis waansinnig om soiets as 'n amateur aan te pak (en dit met 'n gehuurde lens wat enige tyd kan oppak, en 'n kamera wat jy nog net een keer gebruik het), maar ek dink tog mens leer die gouste as jy by die diep kant ingegooi word. En, asof een cliché nie genoeg is nie, onkunde is salig.
Al is ek oor die algemeen heel tevrede met die foto's, kan ek ook nie help om daarna te kyk en alles raak te sien wat ek anders/beter kon doen nie. Maar ek het dit immers met 'n mangelontsteking-koors gedoen, so daarvoor kan ek myself heelwat vergewe!

Tuesday, May 12, 2009

Jou sente jou drome, jou toekoms vol gate

Ek's 'n groot aanhanger van The Secret Millionaire. Hierin besoek suksesvolle entrepreneurs 'n minder gegoede buurt en gee voor asof hulle 'n dokumentêr oor liefdadigheidswerk verfilm. 'n Week later bieg hulle dat hulle eintlik rol in die geld, en dan deel hulle vet tjeks uit vir mense wat hulle beïndruk het. Hier begin almal gewoonlik grens: die miljoenêr, die oorblufte ontvanger van sy barmhartigheid, en ek.

Mense knak soos tandestokkies as hulle besef hoe die wiel onverwags vir hulle gedraai het. Vir kykers is dit emosioneel, want jy kry so lekker oor een ou se goedheid, en oor 'n ander se voortreflike lot. Dikwels is die mense wat die meeste van hulle tyd of geld vir ander gee, self nie so goed daaraan toe nie. So mens kry skaam as jy sien hoe gulhartig hulle is. Vir die miljoenêrs is dit dikwels só bevredigend om ander te help, dat hulle plegtig belowe om meer gereeld aalmoese uit te deel.

Mens moet gee waarvan jy baie het, dink ek. Of dit nou tyd is, of geld. Of empatie. Of aandag. Of wortels. Watookal! Ek gee self gereeld verniet en gratis my (ongevraagde) raad. Mense staan behoorlik tou vir die opinies wat ek so kwistig uitdeel.

Dis bemoedigend om te sien hoe mense in Suid-Afrika met hulle talente woeker. Ek het onlangs gelees hoe musikante (o.a. Gian Groen en Roof Bezuidenhout) 'n Spore op die Maan-konsert vir die aarde gehou het. 'n Ander groep kunstenaars het weer 'n CD opgeneem om mense hoop te gee. Die opbrengs gaan veral vir kinderslagoffers van geweld aangewend word. Sielsgebed, wat deur Mel Botes geskryf is, is die eerste liedjie wat vrygestel is. Met 12 bekendes (o.a. Dozi, Rina Hugo, Anna Davel, Piet Botha en Mathys Roets) wat saam in die “gebed van hoop” sing, is dit amper soos 'n Suid-Afrikaanse weergawe van Do They Know It's Christmas?.

Wat 'n begeesterde idee! Ek dink die CD is die ideale geskenk vir, seg maar, my Ouma se suster wat Sondagmiddag, toe sy ná haar middagslapie wakker word, sien hoe 'n skollie met haar geliefde tjor wegry.

(SA Promo, Junie)

Thursday, April 16, 2009

Zuma en die heuningkwas

Jacob Zuma het glo nou die dag gesê dat, van alle wit groepe in Suid-Afrika, Afrikaners die enigste "ware Suid-Afrikaners" is, omdat hulle nie twee paspoorte het nie en gevolglik nie sal (of kan!) weghol as daar probleme is nie.

Wie kan hoegenaamd teen sulke vleitaal immuun wees? Die ganse Afrikanerdom het sommer 'n nuwe blos op die wange. Ons koppe draai behoorlik van die manjifieke moontlikhede wat so 'n vlerkslepery inhou. Ek wil nie dinge vooruithardloop nie, maar verbeel jou net... Koebaai Mhlambanyatsi en Marapyane! Welkom terug Buffelspruit en Skilpadfontein!

Jy kan maar sê Afrikaners was die slagoffer van 'n politieke one night stand. En nou sit die volk by die foon en wag vir ons sjarmante held se volgende oproep. Die Souties (oftewel "twee-paspoort landsverraaiers!") sal sê ons is desperaat. Maar ons was net vir té lank afgeskeep. Ja, ons weet hy's 'n skollie, maar ons vergewe hom. Ons is immers mál oor mense wat van ons hou.

Ek sal maar nie vir Zuma die medalje wys wat ek onlangs tydens my Britse burgerskapseremonie gekry het nie. Wie weet hoe hy dan oor my ('n Vannermerwe - wat welliswaar nie meer Afrikaans kon wees al sou ek permanent 'n "100% Boer" T-hemp dra nie) sal voel! Ek sal ook verswyg dat al die witmense wat daardie dag saam met my in die "Britse familie" verwelkom is toevallig ook Afrikaners was.

Sommige van julle is natuurlik meer sinies en dink Zuma smeer ons so heuning om die mond, net om later 'n Dingaan op ons te trek. Hoogs onwaarskynlik, reken ek. Iemand wat so geneë is om almal tevrede te hou, sal mos álles in sy vermoë doen om nie die groot kanonne in wêreldpolitiek te ontstel nie. Dit sou waansinnig wees.

(SA Promo, Mei)

Saturday, April 11, 2009

Dag 87 - Put People First, G20 Rally

87/365 - Put People First, G20 Rally
Hierdie foto is by 'n G20 rally geneem - 'n paar dae voor 1 April se moles. Volgens wat ek kon sien, het die oorgrote meerderheid van die betogers SO gelyk: onskadelik. Daar was enkele aggressiewe opinies, maar ek twyfel of enigiemand wat daar was op enige stadium bedreig gevoel het.
Ek het talle verveelde polisiemanne sien rondsit - gereed vir 'n konfrontasie wat nooit plaasgevind het nie. Dis natuurlik beter om voorbereid te wees, so dis als goed en wel. Dit was net vir almal 'n bietjie van 'n anti-klimaks. Vir die polisie ook.

Die 1e April se betogings sou nie so rustig wees nie, daarvoor het 'n grootskaalse opswepery en bangpratery voor die tyd goed gesorg. Mense wat in die Stad werk is aangese om informeel aan te trek om te voorkom dat hulle teikens word. (Maar dit was net pienk hemde en ontwerpershandsakke oral waar jy kyk. Vir wie moes dit flous?)
Die polisie wou skade beperk en het 'n kordon rondom die betogers gevorm ('n 'kettle') en vir die volgende vyf ure niemand in of uit gelaat nie. Dit is iets wat die meeste mense aggressief en paniekerig sal maak. Baie mense is rondgestamp en onnodig hardhandig hanteer, maar die polisie het (en kon) nie onderskei tussen vredeliewende betogers, iemand wat oppad was na 'n vergadering, en 'n skollie wat spesiaal van Duitsland af gekom het om 'n paar bakstene te gooi nie. Tog - as Ian Tomlinson nie na so 'n onderonsie met die polisie aan 'n hartaanval dood is nie, sou niemand waarskynlik die polisie se metodes bevraagteken het nie.

Sunday, April 05, 2009

Dag 83 - Brits!

... maar nie sonder voorbehoud.



Dis 'n groot oomblik wat 'n behoorlike blog regverdig, maar vir nou sal ek eers volstaan met hierdie Steers-advertensie, wat 'n goeie opsomming is van hoe die meeste Suid-Afrikaners in Londen voel.


Tuesday, March 24, 2009

Dag 80 - 491 Gallery

Was Saterdagaand by 'n verjaardagpartytjie in 'n klub in die stad. Nie iets wat ek normaalweg nugter wil aanpak nie. Dis net t**te en elmboë waar jy kyk. Toe loop ons twee Spaanse vriende raak wat se hulle gaan later na squat party in Leytonstone, en wil ons saamgaan. Ek het nog daaroor gedink, toe's ons al oppad. Die squat is eintlik 'n uiters goed georganiseerde kunsgallery (of iets), wat ook aan musikante uitverhuur word. Ons het ongelukkig net een band gesien, maar dit was nie die enigste vermaak nie (lag-gas, enigiemand?). Die hele atmosfeer was soos 'n Glastonbury in E17.
Ek sal nie beweer dat ek alles kan onthou nie, maar hoop om weer daar 'n draai te maak. Dis lekker (en raar) om sulke plekke in Londen te ontdek. Of dalk moet ek net meer uitkom.

Dag 79 - eerste dag van die Lente


Het nou die dag 'n baie interessante onderhoud met Eric Carle gelees, en toevallig het hy kort daarna Google se Lente-dag ontwerp gedoen.

Ander cool Google ontwerpe was hierdie een vir Earth Hour, en hierdie een toe die Koningin hulle kantore besoek het.

Dag 77 - Mislukte selfmoordpoging

Darem nie myne nie! 'n Siel wat voor 'n trein ingespring het. Dis 'n aaklige manier om selfmoord te pleeg (nie net vir die slagoffer nie), en sekerlik een wat jy nie regtig wil oorleef nie.

Deesdae blameer hulle so baie tube-oponthoude op "passenger action", dat ek al begin wonder het of dit nog 'n gevolg van die credit crunch is, en of dit net 'n beter verskoning as "signal failure" is: dat passasiers meer verdraagsaam sal wees as hulle dink iemand het selfmoord gepleeg, as wanneer daar 'n ander tegniese fout is. (Hulle IS meer verdraagsaam, maar net effens.)

Ons het een middag laasweek weer gehoor iemand het onder 'n trein beland, maar die keer was daar geen twyfel dat dit werklik die geval was nie - die hele pad rondom die stasie (langs my werk) was afgesper en slegs brandweerwaens, ambulanse, ens is ingelaat.
Toe die helikopter land toe besef ons die persoon lewe nog. (Ek sidder om te dink in watse toestand.) Mens lees nooit van mense wat so gesterf het of so 'n ongeluk oorleef het nie (tensy hulle gestamp is - en dit het al gebeur), so ons sal nooit weet wat van die persoon geword het nie. Ek kan my dit nie indink nie.

Monday, March 16, 2009

Airship

Ek speel nie gewoonlik internet tag-speletjies nie, maar hierdie is nogals cool (al weet almal dat my band se naam Horsemeat in Salami gaan wees):

1. Go to Wikipedia. Hit “random” or click http://en.wikipedia.org/wiki/Special:Random - the first random Wikipedia article you get is the name of your band.

> en.wikipedia.org/wiki/Airship

2. Go to "Random quotations" or click www.quotationspage.com/random.php3 - the last few words of the very last quote of the page is the title of your first album.

> "The reward of one duty is the power to fulfill another." (George Eliot)

3. Go to Flickr and click on “explore the last seven days” or click www.flickr.com/explore/interesting/7days - third picture, no matter what it is, will be your album cover. (Ek moes wel 'n paar keer Random click voordat ek 'n foto kon kry met die nodige permissies.)

> Photo by malavoda

4. Use Photoshop or similar to put it all together.

Saturday, March 14, 2009

Dag 72 - Storm the Banks

72/365 - Storm the Banks
Natuurlik, oudergewoonte, gebeur al die cool goed op 'n weeksdag.

Dag 68 - It's not all London Lite

Org Potgieter, wat die redakteur van Klets was, het my jare terug oorreed om op The Week in te teken. Te oordeel aan die advertensies in die tydskrif (cashmere truie vir honderde ponde; housesitters vir Europese villas; bespoke signet rings) is ek beslis nie die tydskrif se teikenmark nie.
Al die mense (wat ek op die tube sien) wat die tydskrif lees, lyk min of meer soos die man.
Maar, behalwe vir die gratis Sport tydskrif op Vrydae (waarvoor ek sekerlik ook nie die teikenmark is nie!), en die London Lite se sms-boodskappe, is dit my gunsteling tube-leesstof.

Dag 62 - Laaste keer in die "All other passports" queue

...alhoewel dit sekerlik die eerste keer is wat die EU queue aansienlik langer is.
Kort nadat ek hierdie (geskiedkundige!) foto geneem het, het iemand agter die pilaar uitgespring en gese ek moet dadelik die foto uitvee. Ek beloof toe plegtig dat ek dit alreeds uitgevee het nog voor sy my selfs gevra het, maar toe voel ek alweer soos 'n krimineel. Ek het nog nooit die UK houtgerus binnegekom nie. Totdat ek op die tube sit, vrees ek altyd 'n arrestasie vir een of ander obskure oortreding. Dis absurd. (En net effens paranoid, ek weet.)

Dag 60 - 'n Herfsdag in SA

As jy sien met hoeveel verskillende aktiwiteite derduisende mense in SA hulself op 'n gewone Sondag in die vroee herfs besig hou, dan is dit hartseer om te dink hoeveel dae ons binneshuis deurbring en na die dak staar. (Of is dit net ek?)

Maar ek dink tog dit is presies die rede waarom SA nooit die kwaliteit kunstenaars van Europese lande sal oplewer nie. As jy heeltyd in 'n vakansie-gees is, sal jy nooit veel uitgerig kry nie. Ek sou seg alle bands moet ten minste 'n paar winters in die Noordelike halfrond deurbring. Dit het immers vir ons beste skrywers gewerk - wat seker, met enkele uitsonderings, almal 'n draai in Europa gemaak het?

Ek is self al amper ag jaar hier, maar is nogsteeds permanent in 'n vakansie-gees. Ek dink dis omdat ek met 'n working holiday visa oorgekom het, en steeds net op die 'holiday' deel konsentreer.

Dag 59 - hoendervleis in 'n hittegolf

59/365 - 36 degrees (and goose bumps)
Ons mater Stephan het uiteindelik die strop om die nek gekry. Hulle het op hierdie song van die Parlotones uitgeloop.

Dag 56 - Paternoster


Voor ek Engeland toe gekom het, het ek en my ex amper saam 'n erf teen die see gekoop vir R30,000. Maar ek't gedink ek sou die geld oorsee nodig kry (ek het), en ek wou nie so gebind wees nie.
Vyf jaar later was dieselfde erf R1 miljoen werd. &%$#$&*#

Almal in SA het seker so 'n storie. Ek het natuurlik al slapelose nagte gehad oor die geld wat ek kon gemaak het, maar ten minste kan mens nog in Tietiesbaai gaan kamp vir vyf pond 'n aand.

Dag 54 - Groenpunt Stadion

Die Groenpunt stadion vanuit Eloise se woonstel in die middestad. Dit lyk vir my so te se klaar. Maar dit maak nie eens saak nie. Tussen die lughawe en die stad speel die township-mense reg langs die nasionale pad sokker. Wie't 'n stadion nodig?

Dag 52 - Piet Botha

Was cool om weer vir Piet Botha (Jack Hammer) na ongeveer 10 jaar te sien. Ek was nog nie baie in Bloemfontein uit nie, maar ek dink die Aasvoelklub is definitief my gunsteling venue.
Al die Mystic Boer locals wys seker nou vir my 'n virtuele toffie, maar ek was nog net een keer (vinnig) daar, so kan nie eintlik vergelyk nie.

Dag 51 - Wat is 'n huis sonder pepper spray?

SA is lekker rof. Hier is dit onwettig om met pepper spray in jou besit gevang te word. Daar is dit 'n moet-he bykomstigheid. Almal het een. En hulle is nie bang om dit (tydens die meeste konfrontasies, blyk dit) te gebruik nie.
Hierdie stalletjie by 'n plaasmark in Bloemfontein adverteer een wat beloof om "erger as geboortepyn" te wees. En te oordeel aan die reaksies wat mense kry wat dit gebruik, is dit geen vals dreigement nie! (Dis sekerlik ook meer effektief as om iemand se ma te vloek.)

Dag 46 - Oppie yaat


Sou graag meer tyd in die strate, tussen die locals wou spandeer. Weet net nie of almal so bly sal wees om my te sien soos hierdie kinders nie.

Dag 45 - Onse mense

45/365 - Ware liefde
Ek en Rudi gaan kuier by Koba. Toe sy ons sien, kom hardloop sy so vinnig soos wat haar bene haar kan dra (baie stadig) om die draai en skree: My mense is hier! My kinders het kom kyer!

Saturday, February 07, 2009

Dag 37 - Van jou sal net 'n natkol bly


Sneeumanne kom ook aaklig om.

Dag 36 - Slushfest


Die mense by my werk het vreeslik gemoan oor hoe hulle van hulle huis tot by die stasie op seepgladde ys moes skaats. Ek dag toe eers dis oor hulle nie die regte skoene dra nie, maar toe besef ek dat daar geweldig baie grit in ons buurt was. (En my kollegas beweer hulle het geen teken daarvan in hulle buurt gesien nie.)
Toe besef ek dat ons eintlik net gelukkig is omdat ons skuins oorkant die council bly, en die council-werknemers dieselfde sypaadjies as ons moet gebruik. Bonus!

Dag 35 - War on bankers

Wednesday, February 04, 2009

34/365 - Versiersuiker


Dis hoe dit lyk voor mense en honde dit ontdek. En dis hoe dit lyk daarna.

33/365 - Morden Hall Park


Wat 'n belewenis! Die hele stad was vreemd stil - soos op kersfees. Geen busse, mense, of oop winkels.
As my vlug na SA 'n week vroeer was, sou ek dit als gemis het. Ek het geen probleme gehad om by die werk te kom nie. Dit het net 'n bietjie langer gevat. Maar ek het eers in die park rondgeloop, want ek het geweet dit sal nie 'n probleem wees as ek laat is nie. En toe maak hulle die kantoor 12-uur toe! Ek kon gelukkig 'n laptop by die werk kry, so het sommer op dag 34 ook by die huis gebly.

32/365 - HK Diner


Chinatown was 'n malhuis. Ons moes van beter geweet het. Maar gelukkig was die meeste mense klaar geeet toe ons daar aankom, so ons het nie gesukkel om plek in 'n restaurant te kry nie. Ook maar goed, want ek was so honger dat selfs daai eende wat in die venster hang begin lekker lyk het.

Sunday, February 01, 2009

31/365 - Happy new year?


Ek het hierdie uit die heup geskiet, so dis bietjie geblur. Maar ek's mal oor die mus (wat sy dalk pas in 'n restaurant van 'n teepot af gesteel het - want dit was onbeskryflik koud), en moes dit met die wereld deel.

Saturday, January 31, 2009

Dag 30 - Tussen treine


Bene op platform - dis al.

Dag 29 - Happy hour vandag. Hoofpyn more.

Maar dit was die moeite werd. Wag nou weer in spanning om te sien watter dronk foto's facebook haal.

Wednesday, January 28, 2009

Dag 28 - Morden tube 9vm

Jy kan 'n paar goed uit hierdie foto aflei: dat ek eers 10vm by die werk gaan aankom, en dat as jy in die grootste gerief op die tube wil reis, jy in zone 4 moet bly.

Dag 27 - Watchit!

Nog 'n dag, nog 'n reel.

Monday, January 26, 2009

Dag 26 - Interessante tye


Dis natuurlik lankal nie meer 'breaking news' dat die rentekoerse gedaal het nie, maar ek kan nog steeds nie glo dat die Bank of England al sedert 1694 bestaan nie.

Dag 25 - ons 0.15 sekondes van roem

Ek en Werner Z en Patrick was gisteraand vir ten minste 1 sekond op TV (heel bo, links), en niemand het vandag my handtekening gevra nie. Ek dink ek sal maar, soos Charlize, my heil in Amerika moet gaan soek.

Sunday, January 25, 2009

Dag 24 - By die boom

24/365 - Tree time
Ons het waarskynlik meer sonskyndae hierdie winter as wat ons verlede jaar in die somer gehad het.

Saturday, January 24, 2009

Dag 23 - 2000 ure

As ek nie op die tube gelees het of na ander mense gestaar het nie, sou ek al vir ongeveer 2000 ure (ten minste) na hierdie patroon moes kyk.

Ek het eenkeer gelees hoe iemand gehardloop het vir 'n oop sitplek. 'n Paar minute later, net toe hy begin wonder hoekom niemand anders daar gaan sit het nie, toe voel hy iets nats deur sy broek, en besef toe die persoon wat voor hom daar gesit het se blaas het hom in die steek gelaat. Sedertdien was ek nog altyd senuweeagtig voor ek gaan sit. Maar dis soos 'n lottery - jy weet nooit wanneer dit jou beurt is nie.

Friday, January 23, 2009

Dag 22 - Donderdagaand Pret

Vriende het kaartjies vir vandeesweek (daar's 'n woord wat ek lanklaas gebruik het!) se opname van die Sunday Night Project gekry. Ek moes hierdie foto superskelm neem, want die sekuriteitsouens was vrek groot. Jy kan nie veel sien nie, maar nou weet jy wie Sondagaand se gas is. Nie dat dit gewoonlik 'n geheim is nie. Of is dit? Ek weet nie. Ek het eintlik nog nooit die show gekyk nie. Maar Alan Carr en Justin Lee Collins is albei geweldig snaaks. En Anne Robinson het lekker saamgespeel. Tina Malone van Shameless was ook een van die gaste, en sy's altyd komieklik. Maar Michelle Heaton was pateties. Of dronk. Of beide.

Thursday, January 22, 2009

Dag 21 - Moet asseblief nie dink nie


Net nog 'n voorbeeld van hoe alles vir 'n mens voorgese word. Maar ek het alreeds voorheen daaroor gemoan.

Tuesday, January 20, 2009

Dag 20 - Obama se inhuldiging


Ek's bly Obama het dit ongeskaad al die pad tot in die Wit Huis gemaak. (Ja, hy het!) Hy't op 'n stadium nogal na 'n maklike teiken gelyk.
Hopelik haal Ted Kennedy ook die einde van die dag - wat heeltemal geskiedkundig genoeg sal wees sonder 'n Kennedy se heengaan.

Monday, January 19, 2009

Dag 19 - The Times v Die Gratis Koerante


En die gratis koerante wen.
Ek hou nog van my Metro fix in die oggend, maar ek raak nie meer aan die londonpaper in die aand nie - nie omdat dit volgens hul kompetisie - die London Lite - soveel ink aan mens se vingers afgee nie. Nee, dis eenvoudig net te uiters horribaal. Die London Lite is effens beter - nie omdat dit gedruk word op ink wat nie afsmeer nie. Nee, dis omdat hulle 'n bladsy het waarop hulle sms-boodskappe publiseer, waarop ander mense dan weer reageer. Die volgende boodskap het byvoorbeeld onlangs 'n groot, stimulerende, debat afgeskop: "So what was your worst Christmas present? A year's supply of toilet roll is my contender. (Disappointed, Brockley)".
Ok, dit sal nie die wereld se probleme oplos nie. Maar dit laat voel jou darem beter oor jou eie.

Sunday, January 18, 2009

Dag 18 - Blou-lug dae


Is so skaars soos hoendertande. DIT mis ek die meeste. (Blou lug, meen ek. Nie hoendertande nie!)

Dag 17 - Hulp vir die c****t c***ch


Behalwe dat Werner vir drie weke werkloos was en ons huis-paaiement vandeesmaand opgaan, het die finansiele krisis ons nog nie regtig affekteer nie. Baie ander mense is natuurlik nie so gelukkig nie.
Ray, byvoorbeeld, was ag maande sonder werk. (Waarvan hy darem vir ses maande 'n salaris gekry het, en die wereld vol kon reis.) Hy't hierdie week vir die eerste keer begin werk. En hy se hy't amper op sy eerste dag weer uitgeloop. Nie omdat hy gewoond geraak het aan leegle nie, maar omdat hy nou iets moet doen wat hy altyd gese het hy sal nooit doen nie.
Ek doen al vir jare goed wat ek gese het ek sal nooit doen nie. Dis elke keer 'n besondere laagtepunt as jy voel jy moet jou standaarde prysgee omdat (dit voorkom asof) jy nie 'n keuse het nie. Ongelukkig is daar nie 'n salf vir die stres wat 'n gekneusde ego veroorsaak nie.

Dag 16 - Chinatown



Friday, January 16, 2009

Dag 15 - 'n Nuwe nagereg


Ek en Ray het gisteraand by Werner se restaurant 'n draai gaan maak, en weereens bewys dat dit gans te maklik is om verby jou versadigingspunt te (vr)eet. Hierdie is 'n nuwe skepping (iets soos 'n sake panecotta, dink ek) wat hy op die spyskaart wil sit.

Dag 14 - Alles wat jy oor verhoudings moet weet

Wednesday, January 14, 2009

Dag 13 - Sonsondergang in Swiss Cottage


My kantoor-uitsig. En soos beskryf deur Rupert Everett in sy outobiografie:

"There is a grim area of London called Swiss Cottage. In the late seventies it was a kind of dividing line between the centre of the city and its surrounding suburbs. Now it is more or less part of the West End. Its high street is the Finchley Road , which at some point became the main exit from the city to the north, and so Swiss Cottage was cut in half by two dangerous torrents of traffic that left a marooned island in the middle, which was occupied by the Swiss Cottage pub, a rambling mock chalet complete with window boxes, gingham curtains, oak beams and fake chimneys, a gloomy landmark for Londoners returning from the weekend. Its twinkly lamps of fake cheer rise above the flow of tail lights on a Sunday night, and remind one of empty flats, lonely old ladies and imminent death."

Tuesday, January 13, 2009

Dag 12 - lang, donker Maandag


Dis wat jy sien as jy deur ons loergat kyk. Dis reg: net mooi f/ol. Ek sal werklik nie vriend van vyand kan onderskei as ek op hierdie loergat moes vertrou nie. Gevolglik, as mense wil he ek moet die deur vir hulle oopmaak, moet hulle my bel.

Monday, January 12, 2009

Dag 11 - Koorsagtig


Ons het 'per ongeluk' die Night Nurse in die (non drowsy) Day Nurse se box gebêre. Gevolglik was ek gister nooit by my volle positiewe nie.
Weet ook nie hoe ek by die werk uitgekom het nie. Dag 12 gaan 'n lange wees.

Sunday, January 11, 2009

Dag 10 - Tien boontjies (kry hul loontjies)


Ek kan honderde duisende edamame beans eet. Maar dis seker nie 'n goeie idee nie.

Saturday, January 10, 2009

Dag 9 - Geniet jouself, maar net nie te veel nie



Was gisteraand by 'n blues gig in 'n pub in Putney Heath, waar 'n paar mense ons bietjie skeef uitgekyk het as ons gedurende die songs wou gesels. Dit was vir Alida veral 'n groot frustrasie. Sy't self vir jare dromme in 'n blues band (Delta Blue) gespeel, en hulle gigs in die Hidden Cellar (net bokant De Akker in Stellenbosch) was altyd 'n geweldige uitbundige gehoppery.
Ons het regtig nie hard gepraat nie, en ook nie aanhoudend nie, so toe een man vir die soveelste keer na ons kant toe kyk, wou Mat (die redelik man onder ons) sy trui uittrek, sodat die man kon lees wat op sy t-shirt staan. Iets in die lyn van '4713 days since I last gave a shit'.
Alles in goeie gees, natuurlik - niemand het begin vuiste bal nie!

Laura (in die foto) was terloops, soos ek, gereeld by Delta Blue se Hidden Cellar gigs, maar ons het mekaar eers hier in Londen ontmoet.

Friday, January 09, 2009

Dag 8 - Brixton liefdesverhaal (deel 1)


Ek haat dit eintlik om skelm foto's te neem, maar ek kon hierdie een nie weerstaan nie. En aangesien ek gister geen ander foto's geneem het nie, het ek soortvan ook nie juis 'n keuse gehad nie.

Ek lieg! Ek's mal oor skelm foto's. Dis 'n moerse kick.

Thursday, January 08, 2009

Dag 7 - Mal of toegewyd?


Elke Woensdag en Vrydag is daar 'n plaasmark in Eton Avenue in Swiss Cottage. Gister het net die olyf-verkoper opgedaag. Die res van die mense het seker gesien dit gaan onder vriespunt wees en besluit dis nie die moeite werd om hulle ballas af te vries nie.

Tuesday, January 06, 2009

Dag 6 - Woolworthless

Woolworths, wat vir bykans 'n eeu besigheid in Brittanje gedoen het, het vandag sy laaste winkels gesluit. Dis tragies. Hulle het die coolste (goedkoop) speelgoed gehad. (Soos 'n opwen Shaun the Sheep wat ek amper nie vir die 3-jarige seuntjie vir wie dit bedoel was gegee het nie.)

Die groep was die eerste, maar nie die enigste, hoë-profiel slagoffer van die huidige finansiele krisis.
Gister het Waterford Wedgwood gevou, en Whittard of Chelsea is ook onlangs, na 'n 122-jarige bestaan, onder administrasie geplaas. Maar ek's nog OK - moenie worry nie!

Monday, January 05, 2009

Dag 5 - toe dit weer krismis is

Ek het gister beweer daar's maar twee maniere om die swaarmoedigheid van Januarie en Februarie te keer. Ek het natuurlik van die lekkerste manier vergeet: sneeu.
Ek's steeds kinderlik opgewonde as ek wakker word en ontdek dat alles met sneeu bedek is. Dis geweldig minder aangenaam as iemand wat 3am nog wakker is besluit dis 'n goeie idee om jou met 'n sneeubal te gooi. WTF? In elk geval - dit het wel later die nodige inspirasie verskaf om my 'n volle twee uur vroeer uit die bed te kry, net sodat ek vir 'n uur lank voor werk in die sneeu kan speel. (Vir die ander uur moes ek in die huis ronddwaal en wag dat dit lig word.)

Sunday, January 04, 2009

Dag 4 - alles is koud. en dooooonkeeeeeeer.


Desember is miskien die donkerste maand, maar alles is so kersfeeserig dat mens dit nie agterkom nie. Dis in Januarie en Februarie wat dit mens swaarmoedig maak. Daar's net een manier - nee, twee - om dit emosioneel te oorleef: vele drankies en die vooruitsig van 'n sonnige vakansie. Verkieslik 'n bietjie van beide.

Saturday, January 03, 2009

Dag 3 - die boom se laaste


Dis nou eers dag drie van my foto-'n-dag projek, en ek het pas onthou ek het nog niks afgeneem nie. Ek dag eers 'phok die foto-projek' (want daar's niks in die huis wat interessant is nie), maar gelukkig staan die krismis-boom nog.
En so voorsien ek 'n paar struikelblokke vir die 362 dae wat oorbly. Ons kyk maar wat gebeur.

Dag 2 - Fiona se tube-toertjies


Wat sal 'n tube-rit interessanter maak as iemand wat op die dak kan split?
Nie veel nie.

Friday, January 02, 2009

Dag 1 - Die bottel waarin Rudi te diep gekyk het

Ek gaan probeer om elke dag van die jaar 'n nuwe foto te blog. Dis een manier (die mees pynlose waaraan ek kon dink) om die blog aan die lewe te hou.